Wouter se Watergat
Vandeesweek kan ek niks uit die Watergat self rapporteer nie, want vroulief en ek was in Durban om familielede wie se eiendom deur die naweekstorm verwoes is, te help...

Vandeesweek kan ek niks uit die Watergat self rapporteer nie, want vroulief en ek was in Durban om familielede wie se eiendom deur die naweekstorm verwoes is, te help. Dis erg. Ek glo nie mense buite Durban, en veral uMdloti, weet hoe erg dit is nie. Ons moes inderhaas verblyf reël, en red wat daar te redde was. Almal is getraumatiseer, veral die jong kinders, min van die woonstel of besittings het oorgebly, en die groot bekommernis is nou: Gaan die versekering uitbetaal? Dink asb. aan hierdie mense. Ook aan die honderde wie se informele skuilings in die slag gebly het.
Oom Pottie het die fort gehou en sy hoof-inligting was bloot dat daar groot teleurstelling was oor die Sharks en die powere vertoning van die Blitsbokke. Sy glimlag vir die week kom van een van ons besoekers: “Hallo meneer Rod. Dis Philemon, die gardenboy op jou landgoed. Ek probeer jou al dae lank innie hande kry.” “Hallo Philemon. Wat kan ek vir jou doen? Is daar probleme?” “Um. Ek bel net om te vertel jou papegaai is dood.” “My papegaai? Dood? Die een wat die nasionale kompetisie gewen het?” “Yebo. Dis hy daai.” “Deksels, dis nou jammer. Ek het ‘n klein fortuin op daardie voël bestee. Waaraan is hy dood?” “Hy het vrot vleis geëet meneer.” “Vrot vleis? Wie’t hom vrot vleis gegee?”
“Niemand nie, meneer. Hy het vleis van ‘n dooie perd geëet.” “Dooie perd? Watter dooie perd?” “Die thoroughbred meneer.” “My pryswenner perd is dood?” “Yebo. Hy’s dood van al die harde werk om die waterkar te trek.” “Is jy nou gerook? Watter waterkar?” “Die een wat ons gebruik het om die vuur dood te maak, meneer.” “Goeie genugtig, van watse vuur praat jy?”“Die een in jou huis. Die kers, hy het geval en die gordyne aan die brand gesteek.” “Wat de ongeluk…Wil jy nou sê die huis het afgebrand deur ‘n kers wat omgefoeter het?” “Yebo.” “Maar daar’s mos elektrisiteit by die huis. Waarvoor het die kers gebrand?” “Vir die begrafnis baas Rod.” “WATTER DONNERSE BEGRAFNIS?” “Van jou vrou, meneer. Sy het een aand hier aangekom en vir niemand vertel sy kom nie. Ek het gedog dis ‘n rower, toe slaan ek haar dood met jou nuwe visstok.”…..STILTE….. ….NOG LANGER STILTE….. “Philemon, luister mooi, luister baie mooi, as jy my nuwe visstok gebreek het, is jy baie, baie diep in die k@k!!”
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
