Wouter se Watergat
Hulle merk op hoe netjies en skoon die plek is, en sê hulle sien oral mense wat besig is met opknappingswerk...

Verskeie van ons besoekers, veral diegene wat gereeld in Mei hierheen kom omdat hulle dit as die lekkerste tyd van die jaar beskou, het hul verbasing en dank uitgespreek oor die burgerlike organisasies wat self ingespring het en besig is om die Suidkus, veral Margate, ‘n ‘facelift’ te gee. Hulle merk op hoe netjies en skoon die plek is, en sê hulle sien oral mense wat besig is met opknappingswerk. Namens almal, ook van ons hier in die Watergat, ‘n hartlike woord van dank aan Stephen Herbst van Tidy Towns Shelly Beach, en ander soortgelyke organisasies, wat reusewerk en die munisipaliteite help om ons kus weer soos van ouds te maak, ten spyte van die swak dienslewering.
Vroulief en ek is terug van ons familie-hulpsending aan uMdloti, en ek moet erken, dit was een van die negatiefste ervarings van my lewe. Die verslaentheid van die mense wat groot skade gelei het, en nie weet wat om nou te doen nie, raak ‘n mens diep. Saam met die opslaanhuise en tydelike skuilings van honderde plakkers, is daar duur woonstelgeboue wat nou ontruim moes word weens die gevaar dat hulle kan ineenstort. Dele van die geboue, soms twee of drie van die een hede aan die kante, is net weg.
Meegesleur deur ‘n moewiese stroom water. Ons het met mense gepraat wat hul voertuie gesoek het. Een van hulle het sy feitlik nuwe viertrek-voertuig ‘n kilometer ver in ‘n hoop modder gekry. Wanneer ‘n mens die skade aanskou en aandag gee aan die ligging van die geboue , hoef jy nie ‘n Einstein te wees nie om te besef iewers het betrokkenes in die verlede sekere bou- of munisipale regulasies oortree. Dis waarskynlik te veel gevra, maar deeglike ondersoeke sal gedoen moet word.
Nie veel te sê oor sport nkie, behalwe dat Oom Pottie so bly was oor sy geliefde Lions se eerste oorwinning in die Curriebekerreeks uit ses wedstryde, dat dit geklink het of hulle die beker gewen het. Groot was ons verbasing toe wat tot dusver gelyk het soos ‘n onoorwinlike Cheetahspan deur Griekwas opgerol is. Ons is nie meer so seker dat die Sharks ‘n kans het om die URC-kompetisie te wen nie, lyk my die Stormers en die Bulls het die beste kanse, maar ons bly hoop.
Ons loopstorie: Jannie kom laat by die skool aan. Juffrou vra hom waarom hy laat is. Hy verklaar dit omdat sy pa kaal slaap. ‘n Stilte daal eers op die klas neer. ‘Wat!?’ sê-vra die juffrou. Kosie skrik maar hy vertel: Juffrou, ‘n jakkals maak moeilikheid onder my ma se hoenders en het verlede week een van haar bokke doodgebyt. Twee-uur vanoggend hoor my pa ‘n geluid by die hoenders, hy gryp die haelgeweer en sluip by die huis uit sonder hemp, broek of skoene. Wagter, ons Herdershond word wakker en hy is agterna. Pa het intussen op sy knieë nadergekruip en die geweer deur ‘n gat in die hokdraad gedruk om beter te kan korrel. Skielik druk Wagter sy nat neus teen my pa se boude. Juffrou, ons maak al sedert drie-uur vanoggend hoenders skoon vir die vrieskas….dis waarom ek laat is.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
