Wouter se Watergat
Wat ‘n mens nou ookal van die president en sy party dink oor wat hulle met Suid-Afrika aangevang het, sit ons met ‘n harde werklikheid.

Die hoof-besprekingspunt die afgelope tyd was die saak wat die Zuma-lakei Arthus Fraser teen President Cyril Ramaphosa aanhangig gemaak het. Dit het hier in die Watergat lewendige besprekings uitgelok, en by tye het dinge bietjie warm geraak weens groot meningsverskille. Wat ‘n mens nou ookal van die president en sy party dink oor wat hulle met Suid-Afrika aangevang het, sit ons met ‘n harde werklikheid.
Ramaphosa moet aan die einde van die jaar herkies word as die president van die ANC en die RET-faksie bloedneus gee, sodat hy tot die presidentsverkiesing van 2024 kan begin skoonmaak onder die diewe en skermunkels in sy party. Die ANC moenie ‘n meerderheid in 2024 kry nie, en ‘n koalisieregering neem ons vorentoe. Deel van die skoonmaakproses sal wees dat senior mense wat van misdade/misdrywe aangekla word, ingevolge ANC-beleid moet terugstaan totdat die gereg sy verloop geneem het. Dit het reeds betrekking op Ace Magashule, Zweli Mkhize en verskeie ander. Indien die president iets iewers verkeerd gedoen het, en hy word aangekla, geld dieselfde vir hom. David Mabuza, die huidige adjunk-president, word president, Ramaphosa is nie aan die einde van die jaar in die wedloop nie, die RET-faksie neem oor, en, soos ons in ons jeug gesë het, dis verby met Doris Day. Cyril moet eenvoudig net hierdie een oorleef.
Oor rugby is daar nie veel te së nie, behalwe dat ons Sharksbestuur se diep beursie hul net mooi niks gehelp het nie. Geluk aan die Lions met hul herstelpoging, en dan ‘n vraag: Wat moet Marcel Coetzee van die Bulls nog doen om Rassie se aandag te trek? Hy is ‘n verwoestende rugbymasjien, maar Siya Kolisi is in die pad. Nie negatief bedoel nie, maar ‘n plan sal uitgewerk moet word.
Ons glimlag kom van Johnny de Bod van Florida: Die twee eerstejaar-studente het ‘n bietjie te ver met die vryery gegaan, en besluit om die nooi se ouers die naweek op die plaas oor die onverwagste swangerskap te gaan inlig. Die hele aand het die kêrel gewroeg oor hoe hy die voorgenome skoonouers oor hul lot gaan vertel, maar hy kom nie sover om dit te doen nie. Die nag het hy sleg geslaap en die volgende more was hy vroeg op. Hy was heel verbaas om oral op die werf net Toyotas te sien.
In die motorhuis het ‘n Camry gestaan, onder die boom ‘n Hilux-bakkie en in die stoor was ‘n Land Cruiser. Selfs die plaas se naambord was geborg deur Toyota. Terwyl hy hom so verwonder, groet die oom hom skielik. Die arme kêrel skrik hom flou. Maar kenmerkend van ‘n vindingryke student herstel hy gou en vra die oom uit oor sy baie Toyotas. “Toyotas het baie goeie masjiene. Hul ratkaste gee nie in nie. Die Land Cruiser se vere kan jy maar laat werk. Die onderstelle hou vir ewig. En selfs in die winter sukkel ‘n mens nie om die Toyotas te start nie,” sê die oom. Waarop die kêrel vinnig antwoord: “Oom se dogter is seker ook ‘n Toyota. Ek het haar net so ‘n ligte stootjie gegee, toe vat sy.”
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
