Stiltetyd: Wanneer dinge verkeerd loop
Dit is baie maklik om wanneer dinge verkeerd loop in ’n land die leiers te kritiseer.

Op wie vestig jy jou hoop? Ons kan soms al ons hoop plaas op mense en dan in die steek gelaat word. Wanneer dinge verkeerd loop in die wêreld of in ’n land kan mens ook so iets kry soos misplaaste vertroue. Internasionale politieke betrekkinge, oftewel die geopolitiek, is van tyd tot tyd op ’n mespunt of by breekpunt. Ons is almal bewus van die spannende tye waarin ons lewe. Alhoewel die situasie in Oekraïne ver weg van ons is, ervaar ons almal die gevolge van die oorlog aldaar. Ons voel die uitwerking van die oorlog in beursies wat al dunner word, kos wat al duurder word.
In ons eie land ervaar ons dat mense krities staan teenoor diegene wat verantwoordelik is vir die handhawing van wet en orde. Dit is hier waar Psalm 20 gelowiges help om reg te fokus en te bid. Psalm 20 in die Bybel is ’n koningspsalm. In hierdie Ou Testamentiese Psalm beklee die koning van eeue gelede die sentrale plek. Die koning pak die vyand aan. In hierdie veldtog is nie net sy fisiese voorbereiding belangrik nie, maar ook sy geestelike voorbereiding. Ons vind in hierdie Psalm reg aan die begin ’n hele paar seënbedes vir die land se leiers wat sy hulp by God soek. Hier word gebid dat die Here sy gebed verhoor in tyd van nood.
Dit is baie maklik om wanneer dinge verkeerd loop in ’n land die leiers te kritiseer. Dis natuurlik nie verkeerd om kritiek uit te spreek nie. Die een wat kritiseer moet egter ook met ’n alternatief na vore kom. Dis nie altyd so maklik nie. Dit help ook nie om na kitsoplossings te soek om met dreigemente alles op te wil los nie. Soms moet gelowiges leer om in die gebed in te tree vir hulle wat regeer, soos wat die Psalmis ook doen vir die regeerders van sy dag. “Here, verlos tog die koning.” ’n Gemeenskap se lot is ten nouste verbind met politieke omstandighede. As vertroue op God plek maak vir grootheidswaan, as daar by die leiers misplaaste vertroue is, gaan ’n gemeenskap ten gronde. Verlang jy na die heil van ons land? Bid jy genoeg vir die leiers van ons land?
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
