South Coast Fever

Johan Pretorius: Aardverwarming – gemanipuleerde bangmaakstorie of ernstige gevaar?

In die debatte op Facebook was dit onmiddellik duidelik daar is ‘n betekenisvolle deel van die Suid-Afrikaanse bevolking wat meen aardverwarming word om ‘n verskeidenheid redes oordryf.

Die afgelope week het daar op Facebook hewige debatte plaasgevind oor die kwessie van aardverwarming, en hoe ernstig dit werklik is. Die rede hiervoor was die klimaatverskynsels wat die afgelope tyd op verskillende plekke ter wêreld voorkom en daarop dui dat die wêreld stelselmatig besig is om op ‘n katastrofiese ramptioestand af te stuur. Groot riviere op verkskeie plekke op ons planeet het heeltemal of gedeeltelik opgedroog weens versengende hittegolwe.

In Europa het die Rynrivier se vlakke só gedaal dat normale bootverkeer, uiters belangrik vir die vervoer van goedere en talle lande se ekonomieë, drasties ontwrig is. Dieselfde geld vir die Loire- en Seineriviere in Frankryk, en talle ander in verskeie Europese lande, ook die Teems in Engeland. Verskeie groot riviere in China, onder meer een van die grootstes ter wêreld, die Yangste, se watervlakke is die laagste in menseheugenis. Dieselfde geld riviere in sommige Afrikalande en Noord en Suid-Amerika. In talle lande het buitengewoon-versengende hittegolwe vroeër vandeesweek nog geheers, en het verwoestende storms in die onglangse verlede voorgekom. Alles dui daarop die ys by die pole is besig om teen ‘n ontstellende tempo te smelt, en die vlakke van die see styg bewysbaar oral ter wêreld.

In die debatte op Facebook was dit onmiddellik duidelik daar is ‘n betekenisvolle deel van die Suid-Afrikaanse bevolking wat meen aardverwarming word om ‘n verskeidenheid redes oordryf. Van hulle sê prontuit dis ‘n klug, en word deur organisasies en invloedryke mense om hul eie bedenklike redes oordryf. Ten spyte daarvan dat wetenskaplikes in hierdie studieveld oral ter wêreld, asook die Verenigde Nasies, aardverwarming bevestig, is die reaksie dieselfde as sommige mense se onlangse gevoel oor die Wêreld-gesondheids organisasie (WHO) se sterk standpunt oor inenting en verwante menings oor die Covid-pandemie: “Hulle is deel van die nuwe wêreldorde en wil ons lewens beheer deur onder meer paniek te saai”.

Dit het die uwe van opnuut verstom. Hoe kan mense wat hulself as ingelig beskou so stipsienig wees? Is dit omdat hulle die snert wat hieroor op die sosiale media deur elke Jan Rap en sy maat versprei word, glo? Pleks van die sg. Hoofstroommedia? Soos sekere Suid-Afrikaners nog steeds glo dat Donald Trump die Amerikaanse verkiesing gewen het, en die onskuldige slagoffer is van ‘n heksejag deur liberaliste, die ‘Deep State’ en die Hoofstroommedia, ten spyte daarvan dat daar absoluut geen bewyse is dat hy wel gewen het nie?

Ewenwel, die VN het enkele maande gelede ‘n verslag oor aardverwarming gepubliseer, en die bevindinge bevestig die gevaar van aardverwarming. Die outeurs was die organisasie se tussenregeringspaneel (IPCC) oor Klimaatsverandering. Hierdie verslag dui aan dat skadelike koolstofvrystellings van 2010-2019 nog nooit in die geskiedenis van die mensdom hoër was nie, en dis ’n bewys dat die wêreld vinnig op pad na ’n ramp is. Die wetenskaplikes voer aan dis ‘nou of nooit’ is om aardverwarming tot 1.5 grade te beperk. Die paneel het verklaar tensy regerings oral hul energiebeleid heroorweeg, die wêreld mettertyd onbewoonbaar sal wees. Alle lande moet hul fossielbrandstofgebruik aansienlik verminder, toegang tot elektrisiteit uitbrei, energiedoeltreffendheid verbeter en die gebruik van alternatiewe brandstowwe, soos waterstof, verhoog. Die VN se Sekretaris-generaal, mnr. Antonio Guterres, het dit in ‘n videoboodskap duidelik gestel tensy spoedig opgetree word, sal sommige groot stede in die nabye toekoms onder water wees, wat ook “ongekende hittegolwe, skrikwekkende storms, wydverspreide watertekorte en die uitsterwing van ‘n miljoen spesies plante en diere” voorspel. Hy het het bygevoeg: “Dit is nie fiksie of oordrywing nie. Die wetenskap sê vir ons dit sal uit ons huidige energiebeleid voortspruit. Ons is op pad na aardverwarming van meer as dubbel die limiet van 1.5 grade Celsius waarop in 2015 in Parys ooreengekom is”.

In die die verslag, geskryf deur honderde vooraanstaande wetenskaplikes en waarop ooreengekom is deur 195 lande, word die onteenseglike bewyse verskaf om die verdoemende beoordeling te ondersteun. Die skrywers het opgemerk dat kweekhuisgasvrystellings wat deur menslike aktiwiteit gegenereer word, sedert 2010 toegeneem het “oor alle groot sektore wêreldwyd”. In ‘n artikel in die Washington Post, sê mnr. Guiterres in die IPCC se verslag word ‘n “n litanie van gebroke klimaatbeloftes” uitgewys. Hy het geskryf dat regerings en korporasies wat vir hoë emissies verantwoordelik is, hulle nie net nie aan die werklikhede en beloftes steur nie, maar “hulle gooi brandstof op die vuur deur aan te hou belê in klimaatverstikkende industrieë. Wetenskaplikes waarsku ons is reeds gevaarlik naby aan kantelpunte wat kan lei tot onomkeerbare, katastrofiese klimaatseffekte.”

Die verslag bevat ook ‘n magdom besonderhede om die bevindings te ondersteun, en versterk die vraag waarom sommige mense net nie wil glo dat daar werklik ‘n probleem is nie. Waarom sou 195 betrokke wees by ‘n sameswering oor klimaatsverandering? Dis duidelik hulle besef die gevaar. Die politieke wil en vermoë om daadwerklike stappe te doen is klaarblyklik nie by almal aanwesig nie.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button