South Coast Fever

Stiltetyd: Harde lewenswerklikhede

Psalm 23 is seker een van die bekendste Psalms in die Bybel.

“Ek wil dit alles hê en ek wil dit nou hê.” Dit klink na ’n baie aanloklike proposisie. Daar is by mense ’n begeerte na lewensvervulling en geluk wat natuurlik nie verkeerd is nie. Soms kan mense plesier en geluk ten alle koste najaag. Dink maar aan onrealistiese verwagtinge van ’n hoë salaris terwyl ander sukkel om te oorleef. Soms kan ’n mens aandring op jou regte en vergeet dat jy mens tussen ander mense is en dat ander ook ’n plekkie in die son verdien.

Psalm 23 is seker een van die bekendste Psalms in die Bybel. Dit begin met die bekende woorde: “Die Here is my herder. Ek ly nie gebrek nie.” Dit is natuurlik ’n geloofsbelydenis. Die werklikheid is dat die lewe nie net uit oorvloed en genot bestaan nie, maar ook seer of pyn. Daar is met die verwysing na ’n donker kloof ’n stukkie realisme ingebou wat in die vierde vers van die Psalm na vore tree. Hierdie Psalm spreek van vrede, veiligheid en rus maar is beslis nie in mooiweerstye gebore nie. Dit kom uit die hart van iemand met wie dit nie altyd goed gegaan het nie. Hy het die harde lewenswerklikheid geken. Sou hy dalk vandag geleef het, sou hy kon vertel van sente wat omgedraai moet word, van verhoudinge wat skeefloop, van bekommernis oor kinders en die situasie in die land.

Tog het die Psalmis wat ook soms harde bene moet kou, God as herder van sy lewe geken, die Een wat vir hom ’n rusplek is en aan Hom lewenskrag gee. Daar is ’n belangrike aantekening in die vierde vers van die Psalm. Dit word beskryf as die “donker kloof,” die bedreiging, wat hom in die gesig staar. ‘Ek sal nie bang wees nie, want u is by my, is sy belydenis.” Dit maak die verskil. In die Nuwe Testament word die Here Jesus Christus die Goeie Herder genoem. Hy is ook die deur van die skape, die hek van die skaapkraal van destyds. Hy beskerm jou deur Sy lewe vir jou af te lê. Hy is by jou. Dit troos jou in tye van gebrek en maak dat jy niks kortkom nie.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button