South Coast Fever

Johan Pretorius: Wat doen oupa en ouma as kleinkinders baklei?

Die beste plek vir kinders om te leer hoe om regverdig te baklei, is by die huis. Moet net nie te betrokke raak nie. Wees die fasiliteerder, nie die skeidsregter nie.

Een van die seëninge wat die uwe en vroulief op ons oudag ervaar is die voorreg om op dieselfde eiendom as ons seun en skoondogter te bly, en belangriker nog, om daagliks deel te wees van die lewens van drie kleinkinders – ‘n dertienjarige dogter en twee seuns van onderskeidelik nege en elf jaar oud.

Hoewel daar die meeste van die tyd harmonie en vrede tussen die kleinkinders is, kom daar tye dat hulle uit die bloute uit aan die baklei raak oor somtyds die onbenulligste dinge. Wanneer die ouers in die nabyheid is, laat ons dit aan hulle oor om die vrede te herstel. Maar daar kom tye dat pa en ma met ander dinge elders besig is, en oupa of ouma alleen in die nabyheid is. Wanneer twee boeties baklei, soos die geval was met ons twee seuns, is my herinnering dit was dit makliker om die vrede te herstel as wanneer daar ‘n sussie betrokke is, soos die geval was met vriende se kinders.

Verlede week het daar weer ‘n onderonsie uitgebreek tussen die kleindogter en haar boeties, en oupa en ouma moes help om die orde te handhaaf. Die rede was die boeties se ontevredenheid ‘omdat sussie ons bevele gee asof sy pappa of mamma is. Sy sê sy is ouer as ons en ons moet na haar luister’.
Oupa en ouma het die saak uiteindelik ontlont, maar weereens onder die besef gekom hoe moeilik ouerskap deesdae geword het, en hoeveel meer faktore, soos die produkte van die digitale era wat in die verlede afwesig was, vandag ‘n groot rol speel. Nietemin, oupa was baie ontvanklik vir raad toe hy afkom op ‘n artikel van Afrikaans.com, geskryf deur Nikki Bush, ‘n deskundige in menslike potensiaal en ouerskap. Afrikaans.com sê haar gematigde en verstandige stem is presies waarna ouers soek:

“Wedywering tussen broers en susters is normaal in enige gesin waar daar twee of meer kinders is. Daar is altyd tye wanneer een kind voel hy is onregverdig behandel of trek aan die kortste end. Dus, om nie by hulle bakleiery betrokke te raak nie, is dit belangrik om te verstaan: kinders baklei juis omdat hulle JOU aandag wil hê. Hulle wil hê jy moet kant kies. So, moenie!

Hierdie konflik gaan na alle waarskynlikheid nog verder toeneem namate kinders die hormoonbelaaide tienerjare bereik. Sê Kevin Lehman MD, en skrywer van Have a New Teenager by Friday (Revell, 2011), “Niemand wil in ‘n oorlogsone woon, waar bomme oral land en ontplof nie. ‘n Mens het nie daardie soort opwinding in ‘n huis nodig nie. ‘n Mens se huis behoort ‘n plek van vrede en respek te wees, selfs al is daar nou en dan ‘n paar onderonsies. Dit moet met respek op ‘n ewewigtige manier hanteer word, met die doel om met ‘n oplossing wat vir almal aanvaarbaar is, vorendag te kom.” Hy stem saam met my gevoel dat kinders hulle ouers se aandag soek deur met mekaar te baklei. “Hulle wil hê dat jy moet kant kies sodat hulle kan sê, ‘Sien, ek het jou mos gesê, mamma hou meer van my as van jou’.”

Lehman stel voor indien jy perspektief wil behou, jy hulle moet toelaat om te baklei waar jy hulle nie kan hoor nie, want dit haal die genot daaruit wanneer hulle jou nie as toeskouer het nie. Sit hulle in die kleinste moontlike vertrek in die huis en gee hulle die volgende opdrag: “Julle ouens moet dit oplos, en ek gaan julle 20 minute lank tyd gee om saam ‘n oplossing te kry. Ek sal terugkom en kom kyk.” Dit is hoogs waarskynlik dat hulle binne minute uit die vertrek sal kom en sê dat alles uitgesorteer is, wat dit waarskynlik nie is nie. Jy sal dus spesifiek moet vra hoe hulle die probleem opgelos het. Hier is Lehman se siening:

“As een van jou kinders slu is met ‘n sterk wil en die ander kind is meer ontspanne, kan ek jou verseker dat die sterker een die een is wat meer dikwels sal besluit wat die oplossing is. Die meer straatwys ouer sal egter geneig wees om die meer manatee-tipe persoonlikheid – die een wat rustig saam met die stroom swem – te vra, ‘Is dit regtig hoe jy dit wil hê?’ Jy gee daardie kind dus die geleentheid om iets te sê. “Indien sy sê, ‘Wel nie regtig nie,’ sê jy streng, ‘julle ouens moet langer hieroor praat totdat ek kan sien dat julle ’n regverdige en gebalanseerde oplossing vir hierdie probleem gekry het. Vir my klink dit taamlik eensydig.’
Jou tieners sal nou probeer om jou te laat skuldig voel. Hulle sal jou beskuldig dat jy hulle soos klein kindertjies behandel. ‘Wel,’ sê jy dan ongestoord, ‘julle gedra julle soos klein kindertjies, so ek veronderstel dit is gepas’. Geen tiener wil ‘n klein kindjie genoem word nie. Jou boodskap sal wel inslag vind. Hulle sal minder geneig wees om volgende keer binne hoorafstand van jou te baklei.”

Die beste plek vir kinders om te leer hoe om regverdig te baklei, is by die huis. Moet net nie te betrokke raak nie. Wees die fasiliteerder, nie die skeidsregter nie.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button