Voel jy soms soos iemand wat in die donker rondtas en wens daar was net ’n lig op jou pad? Was daar tye in jou lewe wat jy gehoop het op duidelike leiding en rigting? Een van die algemeen menslike behoeftes is die aan die regte leiding. Mense het in die algemeen ’n behoefte aan leiding oor hoe om besluite oor hul toekoms te neem, al is dit net hoe ek vandag gaan deurbring. Daar is ’n behoefte aan leiding oor hoe om te stem.
Daar is ’n behoefte aan leiding hoe om kinders groot te maak. Daar is ’n behoefte aan leiding wanneer ek finansiële besluite moet neem. Ons het gidse nodig om ons bekend te maak met nuwe terrein. ’n Toergids met ondervinding van ’n land is nuttig om byderhand te hê.
Kortom, elke mens het op een of ander manier ’n behoefte aan leiding. In Psalm 25 vind ons op verskeie plekke dat die Psalmis ’n begeerte uitspreek om deur die Here gelei te word. Hy bid dat God hom deur Sy waarheid sal lei (vers 5). Hy erken dat daar in die lewe moeilike plekke en tye is waar mense of die Bose strikke vir jou stel (vers 15). Hy bely dat God hom uit situasies van groot benoudheid uitgelei het. Ons kan almal met die Psalmis vereenselwig.
Die lewe is veeleisend. Natuurlik is daar tye van vreugde en uitbundigheid. Tog ervaar almal tye van teleurstelling, gebreekte beloftes en vyandskap. Die gelowige mens is nie passief in sulke tye nie. Hy wend hom tot God in gebed. Hy sien hoopvol uit na ’n pad uit die doolhof waarin hy hom bevind. Die Psalmis het bly praat van “Sy God” op wie hy vertrou en wat hom nie beskaamd sal laat staan nie.
As ons eerlik is met onsself, moet ons erken ons meestal maar aangaan met ons lewe sonder om God te ken. Dit is soms in tye van nood wanneer ons voel dat ons vasgeloop is dat ons op uitkoms smeek. Niemand wat op die Here wag, sal beskaamd staan nie, is die belydenis van die Psalmis in sy nood. Jesus Christus loop altyd voor. Mag jy vandag Sy voetspore volg.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
