Een van die dinge wat mense nie graag wil hoor nie is die woorde: “ Ek het jou nie meer lief nie.” Dit is veral in die konteks van die huwelik wat dit plaasvind. Dit is natuurlik nie net in die huwelik wat verbrokkelde verhoudings bespeur kan word nie. Verbeurde liefde kan ook gesien word in gebroke vriendskappe, of verbrokkelde verhoudings tussen mense van een gemeente, werksverhoudinge, volkere.
Dinge wat bydra tot die verbrokkeling van daardie verhouding kan wees die gebrek aan kommunikasie, want daar bly nie veel meer oor om oor met mekaar te praat, sinvol te praat nie. Of julle praat by mekaar verby. Emosionele afstand dra ook by tot die verbrokkeling van interpersoonlike verhoudings. Erens het die verhouding seergekry en voel ek my nie meer verbonde aan die ander party nie. Frustrasie, onopgeloste konflik, bitterheid, gebrek aan vertroue en selfs gebrek aan waardering, is alles deel van die groter wordende verwydering wat plaasvind.
In Psalm 116 verklaar die gelowige digter sy liefde teenoor die Here. Hy sê dat hy die Here lief het, want sy stem word gehoor, ja sy smeekgebede word gehoor. God luister na Hom en hoor nie maar net wat hy sê nie. God draai sy oor na hom en is barmhartig teenoor hom. Hy het die Here lief en God is die wentelpunt waarom sy lewe draai. Daar is ’n wederkerigheid aan die liefde. Dit kom nie net van een kant af nie. Hy sê later dat hy die beker van verlossing sal bring en dankoffers aan die Here sal bring. Liefde word nie net ontvang nie, maar ook uitgedeel. Hoeveel liefde en toegeneentheid het jy nie al van ander ontvang nie? Wanneer laas het jy vir iemand gesê dat jy hom of haar lief het, of sommer net waardeer?
As Christene onthou ons dat Jesus Christus Sy lewe op Golgota afgelê het vir mense wat dit nie verdien nie en so die liefde tasbaar en sigbaar gemaak het. Hy is verwond sodat jou wonde verbind kan word. Dit is soveel meer rede om te sê dat jy Hom lief het. Wanneer laas het jy jou liefde met woord en daad verklaar – teenoor God maar ook teenoor ander?
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
