South Coast Fever

Wat elke ouer oor kinderdepressie en -selfmoord moet weet

Opinion piece by Johan Pretorius.

Hierdie onderwerp was verskeie kere in die verlede reeds in hierdie rubriek ter sprake, maar weens hernieuse gevalle van kinders landwyd wat die afgelope tyd selfmoord gepleeg het, deel ek met Feverlesers die volgende artikel wat Annelie van Jaarsveldt vir Afrikaans.com geskryf het. Baie hiervan is vanselfsprekend, maar dit sal goed wees indien ouers, en grootouers, deeglik kan kennis neem van wat die tekens is dat die kind of kinders in hul gesin of familie met groot probleme worstel.

Die artikel is te lank vir ons beskikbare ruimte, dus noem ek net tersaaklike inligting hier, en lesers word aangemoedig om Afrikaans.com te besoek vir ‘n meer diepgaande begrip van die omvang van hierdie uiters ernstige fenomeen.

Van Jaarsveldt vra hoe weet ‘n mens wanneer die woorde, “ek wil nie meer lewe nie!” uit jou kind se mond rede is tot kommer of net tipiese tienergedrag is. Kinders so jonk as ses spreek soms selfdoodgedagtes uit. Maar beteken dit jou kind sal nou tot die daad oorgaan? Is jou kind werklik depressief? Of is sy optrede bloot ’n soeke na hulp? Dui die gereelde klagtes oor maag- of hoofpyn op werklike ongesteldheid of siekte, of is dit psigosomatiese simptome gekoppel aan depressie? En wat is die moontlike oorsake dat jou kind of tiener aan depressie ly? Hoe behandel ‘n mens dit?

Statistiek deur die SA Depressie- en Angsgroep, skets ’n somber prentjie, want daarvolgens is 9% van sterftes onder tieners weens selfdood. Volgens die sielkundige Dalene du Plessis het kinders so jonk as sewe jaar al hul eie lewe geneem. So ook toon van die jongste navorsing in Amerika dat kinders tussen 10 en 12 se selfdoodpogings vanaf die jaar 2000 tot 2020, meer as vervierdubbel het. Enkele oorsake van depressie: oorwerflikheid, chemiese wanbalans van die brein, traumarespons, druk om te presteer, disfunksionele huisomstandighede ens. Daar is nog baie ander. Sien Afrikaans.com.

Waarna om op te let: Verandering in gedrag, jou kind kla gereeld oor hoof- of maagpyn en dit word nie juis beter met behandeling nie ( dit kan dus psigosomaties wees, en onthou, die pyn is werklik – die oorsaak is net nie altyd iets fisiek nie ), jou kind is uiters geïrriteerd, huilerig, met woedebuie en aggressie, hy kan nie sy emosies reguleer nie, hy onttrek hom, sosialiseer nie, het slaap-, selfbeeld- en eetprobleme, en hul skoolwerk gaan agteruit.

Spesifieke tekens by voorskoolse kinders: Minder aktief, slaperig, ‘n rustige kind word skielik hiperaktief, kla oor maag- of hoofpyn, huilerig, klou oormatig aan ouers, verandering in eet- en slaappatrone.

Laerskool-kinders: Wil nie meer skool toe gaan nie en is angstig, slaap- en eetpatrone verander, kla oor maag- en hoofpyn. Dit is werklike pyn en word nie versin nie, maar die oorsaak is waarskynlik psigosomaties eerder as fisies. Alhoewel, kinders kan maagsere kry, is die heeltyd bekommerd oor goed, sukkel met selfbeeld, raak aggressief sonder behoorlike rede, en gebrek aan motivering wat tot swak punte in skoolwerk kan lei.

Die tiener: Lyk verwaarloos en gee nie meer om oor voorkoms en netheid nie, sukkel om te konsentreer, is die heeltyd moeg, onttrek hulself en wil nie met maats/familie meng en ook nie aan aktiwiteite deelneem nie, loop gereeld weg, ontwikkel selfdoodgedagtes en wend selfs poging aan, of is uiters sensitief teenoor ander se mening met ‘n swak selfbeeld.

Die groot vraag is nou hoe behandel of hanteer ‘n mens depressie by jou kind of tiener? Ouers en onderwysers moet bedag wees op die kind se emosionele welstand en dadelik optree as hulle vermoed alles is nie pluis nie. Kinders is geneig om soms uitlatings te maak, soos “Ek wil nie langer leef nie!”, en so meer, maar dit beteken nie noodwendig hulle oorweeg selfdood nie. As jy egter enigsins twyfel of daar is tekens, raadpleeg ’n sielkundige.

Oorweeg psigoterapie (praat-terapie) – in gesinsverband, maar ook afsonderlik. Dit is moeilik vir veral jong kinders om hulle gevoelens in woorde uit te druk en daarom is die bystand en kundigheid van ‘n terapeut van onskatbare waarde.

Kommunikeer en luister. Jou kind moet die vrymoedigheid hê om oor enige iets met jou te gesels. Dit is daarom noodsaaklik om nie veroordelend te wees nie en van jongs af geleenthede te skep om met jou kind te gesels. Gee erkenning aan jou kind se emosies. Dit is nie sommer net kinder- of tienertwak nie.

In die artikel van Annelie van Jaarsveldt word nog talle aspekte genoem en kundige raad gegee wat van onskatbate waarde sal wees vir die ouers van kinders met hierdie probleme. Daar is ook besonderhede van twee mense wat met erge despressie in hul kinderjare te doen gekry en dit oorwin het. Ware inspirerende verhale. Besoek Afrikaans.com gerus. Dit kan u dalk net help om u kind, of kleinkind, wat ‘n depressielyer is, se probleem te help oplos. En ‘n tragedie te voorkom.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button