
Soos ander derduisende Suid-Afrikaners het die uwe verlede Sondagaand, geteister deur ‘n ongekende sielkundige en geestelike marteling, gesit en kyk hoe die Franse Hane die Springbokke in talle fasette van die spel oorheers, uitoorlê en ore aansit. Maar dan skielik verligting kry wanneer die Bokke teen die algemene verloop van die spel drieë druk. Aan die einde van die eerste helfte in die kwarteindronde van die Wêreldbekerreeks het Suid-Afrika met slegs drie punte agtergeloop, die tweede helfte sonder Eben Etsebeth weens ‘n geelkaart begin, talle ‘tackles’ gemis en steeds gesukkel teen die Franse wat die hele veld vol gespeel het.
In hierdie helfte van ‘n hoogs-aanskoulike wedstryd het die Springbokke met oomblikke van briljantheid vorendag gekom toe Cheslin Kolbe ‘n doelskop afgestorm, Eben Etsebeth gaan druk en Handré Pollard net-net met ‘n skepskop van 53 meter geslaag, en hulle met tien minute oor met een punt laat voorloop het. Dit terwyl die Franse steeds die beste span op die veld was, en aan die einde verwoed aangeval het. G’n wonder hulle was so platgeslaan en emosioneel na die eindfluitjie geblaas het nie. Hulle moes die wedstryd gewen het met ‘n gebiedsvoordeel van 64% en ‘n besitvoordeel van 60%. Maar hulle het nie.
Waarom nie? Myns insiens is die antwoord eenvoudig. Rassie Erasmus se rugbybrein maar bowenal die spankultuur wat hy en Jacques Nienaber, die afrigter en sy jarelange regterhand, gevestig het en bowenal sy besonderse vermoë om mense te bestuur en ‘uit die boks te dink’. Ja, daar is mense wat nie van hom hou nie, hy het al ondeurdagte dinge gedoen soos sy video oor skeidsregters wat die manne van Wêreldrugby in hul biere laat stik het, en wanneer hy sy manne motiveer kry die f-woord ‘n ereplek. Maar dit werk. Sy onkonvensionele metodes, soos gekleurde flitsligte om boodskappe op die veld oor te dra, het altyd, selfs te midde van negatiewe persepsies, die een of ander positiewe uitwerking gehad.
Wat ons Sondag op die veld gesien het, was onregstreeks of regstreeks die gevolg van sy besonderse vermoë om ons rugby uit moeilike tye te lig en spelers te motiveer. Nie lank gelede nie, was die sg. kwotas ‘n doring in die vlees van Suid-Afrika se rugby-ondersteuners en die spelers self. Hoewel die kwotas nog op laer vlakke soos in skolerugby toegepas word, en tegnies nog daar is wat betref die Springbokspan, het Rassie, veral as Direkteur van SA Rugby, daarin geslaag om dit in die agtergrond te laat verdwyn. In sy outobiografie, wat ek onlangs gelees het, sê Erasmus dat hy van 2011 af, toe hy die eerste keer in ‘n bestuursposisie by SA Rugby was, sy droom nagejaag het, nl. om ‘n situasie te skep waarin die Springbokspan nie meer deur ‘n kwota- of transformasiebril beskou word nie, maar as ‘n span wat op speelvermoë alleen en as verteenwoordigend van die hele bevolking gesien word.
Dis was reeds in ‘n groot mate die geval in 2019 toe die Bokke die Wêreldbeker met Siya Kolisi (een van Erasmus se meesterskuiwe) as kaptein gewen het. Sondag was dit in die oortreffende trap weer die geval, en vandeesweek het daar oral in die land, benewens blanke rugby-ondersteuners, swart mense in Springboktruie rondgeloop en geesdriftig hul steun betoon. Net wat hierdie erg-verdeelde en getraumatiseerde land van ons broodnodig het.
Daar is by die uwe geen twyfel nie dat Erasmus se grootste nalatenskap sal wees dat hy daarin geslaag het om die stelsel te omvorm in ‘n inklusiewe, allesomvattende opset wat die beste beskikbare talent vir die Bokspan ontgin. Dis nie perfek nie, maar die Elitespeler-ontwikkelingprogram is sy groot bydrae tot SA Rugby, en die belangrikheid van die program se voortbestaan kan nie oorbeklemtoon word nie. Die ou stereotipes in SA Rugby is besig om te verdwyn, hoewel daar waarskynlik nog mense is wat daaraan vasklou. Transformasie is nie meer ‘n taboewoord nie. Erasmus beklemtoon in sy outobiografie dat mense moet ophou om spelers te tel volgens hulle kleur en om liewer op die rugbytalent alleen te fokus.
In sy boek verklaar hy indien daar in enige ander land van transformasie gepraat word, beketen dit ‘verandering’, om te verseker dat alle beskikbare talent raakgesien en ontwikkel word. Dit het nie meer te doen met ‘swart-in en wit-uit’ nie, en word deur die ontwikkelingsprogram bestuur, in samewerking met die sg. mobi-eenheid van top-afrigters wat landwyd rugbytalent ontgin en ontwikkel. Erasmus is baie trots op die ontwikkelingsprogram en wys daarop dat top-spelers soos Makazole Mapimpi, Lukhanyo Am en Kurt-Lee Arendse deur middel van hierdie program ‘ontdek’ is.
Elke speler kry ‘n ‘padkaart’ met langtermyn-doelwitte, en word gehelp om hul swakhede uit te skakel en sterkpunte te verbeter, nie net as rugbyspelers nie, maar ook holisties ivm. ander aspekte van hul lewens. Erasmus weet hy sal nie vir ewig in sy pos bly nie, en sy grootste vrees is dat die stelsel inmekaar gaan stort wanneer hy vertrek. ‘Dit sal my hart breek’, sê hy, ‘want ons metodes werk en ons kry spelers van verskillende agtergronde en bevolkingsgroepe om onwrikbaar in mekaar te glo’.
Soos ons self Sondag ervaar het. Suid-Afrika durf dit nie verloor nie. Die land kan dit eenvoudig nie bekostig nie.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page