Verstommende verhaal van Franse seuntjie in die Transkei
Toe die uwe op soek was na ’n onderwerp vir hierdie week se bydrae, het hy per toeval ‘n rubriek, Historiese Almanak, gehoor wat net na 06h35 in die program Klankkoerant van Pretoria FM uitgesaai word. Dit word geskryf deur ‘n oud-SAUK-kollega wat nou in Bloemfontein afgetree het, Albé Grobbelaar, maar na baie jare nog
Toe die uwe op soek was na ’n onderwerp vir hierdie week se bydrae, het hy per toeval ‘n rubriek, Historiese Almanak, gehoor wat net na 06h35 in die program Klankkoerant van Pretoria FM uitgesaai word. Dit word geskryf deur ‘n oud-SAUK-kollega wat nou in Bloemfontein afgetree het, Albé Grobbelaar, maar na baie jare nog steeds hierdie rubrieke oor interessante gebeure van die verlede vir radio skryf. Ek herhaal dit hier met volle erkenning aan Albé en Pretoria FM, vir die lesers van die SC Fever, veral omdat die Xhosas en die Transkei ter sprake is.
Die storie van die Franse seuntjie wat 350 jaar gelede tussen die Xhosas in die Transkei grootgeword het, bly ’n verstommende verhaal. Sy naam was Guillaume Chenu de Chalezac, en hy het sy ouers albei verloor toe hy nog baie klein was. Na hulle dood, het ’n oom van hom, ’n Hugenoot, hom aangeneem en moes hy saam met díe oom uit Frankryk vlug. In Madeira het die Portugese owerhede sy oom in die tronk gegooi, en die jong knapie bevind hom op net tienjarige ouderdom herderloos en reddeloos in ’n vreemde land, waar hy nie ’n woord van die taal verstaan nie.
Om ’n lang storie kort te maak: Die Franse seun word uiteindelik deur ’n Engelse skip, die Bauden, wat Amerika en die Verre-Ooste aandoen, opgelaai. Die kaptein van die Bauden, John Cribb, en tien matrose word in November 1686 gedood toe die skip suid van die Kaap Verdiese eilande deur seerowers aangeval word. Die res van die bemanning slaag daarin om weg te kom, maar steeds was dit nie die einde van die ellende nie. Die noodlot slaan weer toe terwyl hulle rondom die suidpunt van Afrika op pad terug Engeland toe vaar.
Die nuwe bevelvoerder gooi anker langs die Transkeise kus en die jong Guillaume word saam met agt matrose land toe gestuur om vars water en vuurmaakhout te gaan soek. Slegte weer en die rotsagtige kuslyn lei daartoe dat hulle tien dae later eers naby die monding van die Keirivier aan land kan gaan. Op die strand word hulle ná ’n misverstand deur ’n groep Xhosa’s aangeval en die Franse seun word vir die dood daar laat lê.
’n Aantal nuuskierige Xhosa-vrouens kom agter dat die wit kind nog lewe, en hy word na ’n kraal toe gedra waar hy versorg word. Hier sou die seun soos ’n koning behandel word. Hy word deur die Xhosa-opperhoof as sy peetkind aangeneem en hy leer hulle taal praat. Die opperhoof het glo so lief vir hom geword, dat hy die Franse seun selfs bo sy eie seun bevoordeel het.
Nadat Guillaume volgens oorlewering ’n jaar lank hier gebly het, het daar op ’n dag ’n groepie gehawende Hollandse skipbreukelinge opgedaag. Hulle skip, die Stavenisse, het reeds twee jaar tevore naby die huidige Durban gestrand, waarna hulle probeer het om oor land terug te loop Kaap toe. (Onthou dis die 1680’s.) Hulle haal die Franse seun oor om hulle verder op hul lang tog kuslangs te vergesel. Wonder bo wonder word die geselskap deur ’n verbygaande skip raakgesien en aan boord geneem. Teen die middel van Februarie 1688 kom hulle uiteindelik veilig in die Kaap die Goeie Hoop aan, waar Simon van der Stel onmiddellik begin navraag doen om uit te vind of daar nog enige van die seun se familie in Europa is.
Op 19 Oktober 1688, net meer as 335 jaar gelede, vertrek Guillaume Chenu per skip op ’n verdere avontuurreis Natal toe om na nog oorlewendes van die gestrande Stavenisse te gaan soek. Toe hy die volgende jaar in die Kaap terugkom, wag die blye nuus op hom dat die goewerneur sy ouer broer in Holland opgespoor het. En kort hierna is die seun, wat op 15-jarige ouderdom reeds meer wedervaringe gehad het as die meeste mense in ’n leeftyd, met sy broer herenig.
* Guillaume Chenu het ‘n boek oor sy vreemde avontuur geskryf, wat in 1748 in Duits gepubliseer en later in Frans en Engels vertaal is. Hy skryf hierin breedvoerig oor die kultuur, gebruike en rituele van die Xhosa, vir wie hy groot waardering gehad het. Hy praat met groot toegeneentheid en respek van die hoofman en vertel hoe dapper hy aan die bloedige gevegte teen Khoekhoen-groepe deelgeneem het. Die hoofman het aan Guillaume ‘n troppie beeste gegee wat sy status in die groep verhoog het en gesmeek dat Guillaume met sy jongste dogter trou.
* (Uit ’n artikel deur Max du Preez in Vrye Weekblad op 12 Mei 2023.)
Dankie Albé. Voorwaar ‘n verstommende reeks ervarings deur ‘n jong kind in wat destyds nog ‘n wildernis was. En waarvan relatief min mense bewus is.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
