‘n Monumentale gebeurtenis in ons sportgeskiedenis
Die uwe het nooit kon dink dat ek in my amper 80 jaar op aarde so-iets sou beleef nie. Ek sal nie eens probeer uitbrei nie, want enigiemand wat enige gevoel vir rugby het, die veelbewoë geskiedenis van die spel ken in hierdie politiek-geteisterde land van ons, sal besef van watter enorme omvang Saterdag se
Die uwe het nooit kon dink dat ek in my amper 80 jaar op aarde so-iets sou beleef nie. Ek sal nie eens probeer uitbrei nie, want enigiemand wat enige gevoel vir rugby het, die veelbewoë geskiedenis van die spel ken in hierdie politiek-geteisterde land van ons, sal besef van watter enorme omvang Saterdag se oorwinning teen die All Blacks inderwaarheid was.
Dit het niks te doen met die drie naelbyt-eenpuntseges na mekaar of die feit dat ons toplande moes klop onderweg eindronde toe teen die All Blacks nie. Maar alles met die tydsgewrig waarin ons nou is, en in die besonder die politieke ontstuimigheid en onderlinge verdeeldheid op vele terreine. Aanstaande jaar se verkiesing is op ons, en as ‘n beduidende hoeveelheid van die ongelooflike solidariteit en eensgesindheid onder die bevolkingsgroepe tov. van die Springbokke in ons politieke prosesse neerslag vind, gaan hierdie land ‘n groot stap vorentoe gee.
Mag die Here dit so beskik, want ek is in my hart oortuig daarvan daar was ‘n rede waarom hierdie prestasie behaal is. Ek is oortuig daarvan vorentoe gaan ons nog terugkyk na vanjaar se Wêreldbekertoernooi as ‘n baken in ons land se geskiedenis. Daar is mense wat sê ek is naïef en liggelowig en die euforie sal vervaag hoe verder ons die toekoms inbeweeg. Mag so wees, maar totdat dit gebeur, sal ek die teenoorgestelde glo.
Soos by tye in die verlede, wanneer nie meer woorde het nie, deel ek met die Feverlesers my goeie vriend en bekroonde SA skrywer Dana Snyman se skryfsel oor die rugby, wat hy die opskrif ‘To Dream the Impossible Dream’ gegee het, en die essensie van die betekenis daarvan vasvat: “Het rugby nie dalk vir my te belangrik geword nie? Iets van my grootword en ouer word kan ek in rugbywedstryde uitmeet In 1974 het oorlede Pa my Loftus Versfeld toe geneem om na my eerste toetswedstryd te gaan kyk: die Bokke teen die Britse Leeus. Ek onthou hoe Hannes Marias en sy manne op die veld draf en ek na daardie groen truie kyk en dink: dis ’n anderster groen, dit is ’n dieper groen wat met meer as is net ’n kleur is. Ons het daardie toets verloor, maar ek is huis toe met Avril Malan en ’n paar ander oud-Bokke se handtekeninge.
Rugby was deel van my politieke ontwaking. Wie bo die ouderdom van 45 onthou nie daardie vroeë oggende in ’81 voor die TV toe die Bokke deur Nieu-Seeland getoer het nie? Betogers wat op die veld storm met plakkate: Stop apartheid! Go hom Boks! Polisiemanne met knuppels op die veld, en ons wat vir mekaar sê: Ons is die muishonde van die wêreld. Jare later, soos die einde van ’n sprokie, toe is dit ’95 se Wêreldbeker. Ons teen die All Blacks op Ellispark. Madiba wat in daardie groen trui op die veld stap. In die laaste minute Joel Stransky wat skepskop, en daar trek die bal, van Musina af oor Marble Hall en Sebokeng, Bloemfontein en Kokstad, Elim en Parow, tussen die pale deur; en ons wat vir ’n ruk voel soos die reënboognasie wat die wyse, ou aartsbiskop wou hê ons moet wees.
Nou voel dit of daardie reënboog ’n lem geword het, soos in ’n sprokie kán gebeur. Die moorde, beurtkrag, rioolwater in die strate, die korruptes met hul langpuntskoene en Gucci-handsakke. Die woede, oral woede. Maar óns is nog hier, ons wat steeds droom van ’n beter land vir almal. Saam. ’n Nasie. Dat rugby, ’n spel wat so lank hier by ons met Afrikaner-nasionalisme vereenselwig is, ’n baken van hoop vir alle Suid-Afrikaners geword het, oor allerhande grense heen, is ’n soort wonderwerk. Wat anders in die land verenig ons op die oomblik soos rugby? Dit is asof jy nader aan jou emosies tydens ’n groot rugbywedstryd is, alles meer intens ervaar, vreugde en ook teleurstelling, ook woede, maar dis ’n impotente soort woede. “An island of directness in a world of circumspection,” beskryf Frederick Exley dit.
Daar is niks postmodernisties of woke aan Eben Etzebeth wat met die bal in die hand veldop storm nie. Nie dat die mense in beheer van rugby dit altyd vir ’n mens maklik maak nie. Om deesdae van die spel te hou, voel by tye ’n bietjie soos om verlief te wees op een van die housewives van die Wynlande. Geld het die spel op baie maniere verander. Gelukkig speel ons toe in, wel, tradisionele truie teen die All Blacks, nie daardie klouerige kleed waarop die dieper groener verbleek is tot die groen van ’n Amerikaanse dollarnoot. Party mense wil rugby afskryf as blote ontvlugting. Die ou Romeine se panem et circenses – brood en sirkusse, ’n teken van vervlakking, van landsburgers wat vermaak bo hul burgerlike pligte verkies.
Ek kan nie sê of dit waar is nie, maar, eish, toe die Bokke teen die All Blacks vir die eindstryd opdraf, was ek nie voor die TV omdat ek van iets wou ontvlug nie. Ek glo ook nie die derduisende, miljoene, ander mense nie. In huise en woonstelle, in shebeens en kroeë, in gemeenskapsale en woonwaparke. In glaskastele en sinkhutte. Ons wou nader aan iets beweeg. Rugby het vervleg geraak met ons soeke na hoop, vir die land, vir mekaar. Natuurlik is daar ná Saterdag weer moord gepleeg en het gedeeltes van die stad steeds vir meer as ’n week al nie water nie en is die korruptes steeds korrup en die gieriges steeds gierig. Maar vir 80 plus minute het ons die Bokke daar ver in Parys gedra, verenig. Om iets te probeer terugwen wat ons verloor het.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
