South Coast Fever

Wouter se Watergat

Die slag is gelewer. Glo dit of te nie, die laaste besoekers het eers agt-uur Sondagoggend hul weg huiswaarts gevind. Toe was daar feitlik geen bier in die yskaste oor nie, die brannas en die vodka’s se getalle is gereduseer tot enkele bottels, ons het nog ‘n paar duur whisky’s gehad, maar verder was ons

Die slag is gelewer. Glo dit of te nie, die laaste besoekers het eers agt-uur Sondagoggend hul weg huiswaarts gevind. Toe was daar feitlik geen bier in die yskaste oor nie, die brannas en die vodka’s se getalle is gereduseer tot enkele bottels, ons het nog ‘n paar duur whisky’s gehad, maar verder was ons soos die spreekwoordelike woestyn. Droog. Eers laat Maandag-oggend weer oopgemaak.

Die rede was nie soseer dat die besoekers so baie gedrink het nie, daar was net so baie van hulle. Ons het ‘n groot TV-skerm op die sypaadjie gehad met stoele en tafels, wat baie swart toeskouers gelok en wat alte lekker gekuier het. Binne was daar ‘n hele paar swart munisipale amptenare wat geesdriftig saam gejuig het. Letterlik-tjok-en-blok vol. Ek bedoel vol. Die eerste keer in die geskiedenis van die Watergat wat ons dit ervaar. En wat ‘n verrykende ervaring was dit nie.

Daar is inderwaarheid niks meer om te sê nie. Teen hierdie tyd was die Springbokke al by die eerste stad om fees te vier, en die onderlinge welwillendheid oorweldig almal waar hulle gaan. Oom Pottie waarsku my om nie te optimisties te wees oor die langtermyn-effek van hierdie Wêreldbeker-oorwinning nie, want die politici is steeds in die omtrek. ‘Kyk net wat het President Ramaphosa gedoen. Probeer ry op die rug van die Bokke om sy regering te bevorder’. Hy het dit gedoen, ja, en dis bitter jammer. Maar die hoop beskaam nie.

Nog ‘n loopstorie uit Oom Pottie se argief: Bloubul-ondersteuner, op vakansie uit Centurion, het na Saterdagaand se wedstryd verklaar hy voel presies soos baie jare gelede toe hy by die destydse Poskantoor gewerk en een van die grootste flaters van sy lewe begaan het. Klasie van der Walt het vertel hy en sy spannetjie moes ‘n telefoonpaal in ‘n kwaai ou tante se agtertuin gaan plant. Sy baas het hom gewaarsku sy is maar moeilik, en hy moet in sy pasoppens wees.
Hy klop aan die voordeur, en die tantetjie maak oop. ‘Yes my boy, what can I do for you?’ Sy gluur hom aan. Hy skrik hom boeglam, want hy kon toe skaars Engels praat. ‘Maar, soos die Blou Bulle,’ verduidelik Klasie, ‘besluit ek om ten spyte van dreigende onheil, my bes te probeer’. Hy stotter sy storie uit. Skielik klap die tannie die deur in sy gesig toe, en weier om weer oop te maak. Klasie gaan terug kantoor toe en vertel sy baas wat gebeur het. Sy baas gaan saam met hom na die huis toe, klop aan die deur en kondig hardop aan dat hy die Poskantoor se senior man is. Sy maak die deur oop, is nog steeds woedend, dreig met regsaksie, en klap die deur toe dat die kosyn sidder.

Klasie se baas besef hier is iets ernstigs aan die gang. ‘Wat presies het jy aan haar gesê dat sy so briesend is?’ Klasie verduidelik al wat hy gesê het is ‘Madam, I want to come and plant my pole in your backside’.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button