Een van die ervarings van die verlede wat my bybly is ‘n telefoongesprek tussen die uwe en die politikus, mnr. Pik Botha, in 1999. Dit was pas nadat hy met ernstige prostaatkanker gediagnoseer is, en ‘n operasie moes ondergaan. Hy het my meegedeel hoe groot die skok van die diagnose vir hom was, en dat dit hom heeltemal onkant gevang het. Hy het dit teenoor my benadruk hoe belangrik dit is om gereeld getoets te word, indien jy ouer as 60 is, minstens elke ses maande, en hoe spyt hy was hy het dit nie gedoen nie.
Gelukkig vir hom, was die operasie ‘n groot sukses en het hy, sover ek bewus is, nie weer las van prostaatkanker gehad nie. Nietemin, ek het myself sedertdien gereeld laat toets, en tot dusver nog geen prostaatprobleme gehad nie. Maar ek het deeglik bewus gebly van die gevaar, want dit het stil-stil een van die algemene kankers onder Suid-Afrikaanse mans geword. Vandeesmaand is juis die jaarlikse prostaatkanker-bewusmakingsmaand, sg. Movember, ( waartydens mans snorre groei ) wat my laat besluit het om iets daaroor vir die Fever te skryf. Onlangse statistiek toon dat een uit elke vier huisgesinne in die land deur kanker geraak word, met die algemeenste kanker onder mans, prostaatkanker, en onder vroue borskanker. Volgens Kansa word ‘n minimum van 250 mense per dag met ‘n vorm van kanker gediagnoseer.
Prof. Michael Herbst, ‘n gesondheidspesialis van die SA Kankervereniging, sê ‘n gemiddeld van vyf mans per dag sterf elke dag weens prostaatkanker, maar beklemtoon ‘n vroeë diagnosering van die siekte beteken ‘n kans op oorlewing van tot 95%. Duidelike simptome verskyn nie totdat die kanker al gevorderd is nie. Die volgende lys is simptome wat, as hulle voortdurend voorkom, kan aandui dat die kanker begin groei na gebiede buite die prostaat. Van die simptome kan ook deur ander prostaat of blaasprobleme veroorsaak word. ‘n Merkbare afname in urine-hoeveelheid, ongewone onderbrekings gedurende urinering, ‘n behoefte om dikwels te urineer, pyn gedurende urinering of saadstorting, en bloed in urine of in semen.
Die mees basiese metode wat ‘n geneesheer gebruik om prostaatkanker te vind is deur die prostaatklier via die pasiënt se rektum met sy vinger te ondersoek om na vergroting of verharding van die klier te soek. Saam met die liggaamlike ondersoek word ‘n bloedtoets gedoen om die prostaat-spesifieke antigeen (PSA) te meet. Die PSA neem toe wanneer kanker teenwoordig is, maar kan ook deur prostaatontsteking en nie-kwaadaardige groeisels verhoog word. ‘n PSA van meer as 2,5 vir mans in hulle veertigerjare, meer as 3,5 vir mans in hulle vyftigerjare en van meer as 4 in hulle sestigerjare dui op die moontlikheid van kanker. Wanneer een van die bogenoemde toetse aandui dat kanker ‘n moontlikheid is, doen die dokter gewoonlik ‘n biopsie om prostaatweefsel te versamel vir ‘n ondubbelsinnige diagnose. Die biopsie word in ‘n paar minute deur die wand van die rektum gedoen.
As die biopsie bevestig dat kanker teenwoordig is, kan dit nodig wees om uit te vind presies hoe ver die kanker versprei het. Dit word gewoonlik deur aftasting met rekenaartomografie gedoen om ‘n duidelik beeld van die betrokke deel van die pasiënt se liggaam te kry. Wanneer die kanker vroeg ontdek word en byvoorbeeld nog nie gevoel kan word deur ‘n liggaamlike ondersoek nie, kan daar aanvaar word dat dit nog nie versprei het nie en kan mens voortgaan met die beplanning van behandeling sonder om ‘n aftasting (skandering) te doen.
As gereelde ondersoeke en ‘n biopsie dui op kanker, maar dit nog in ‘n vroeë stadium gediagnoseer is, is daar nie rede tot kommer nie. Die kanker groei baie stadig en is al jare in die pasiënt se liggaam teenwoordig. Dit is dus raadsaam om die weke na die kanker se ontdekking goed te benut deur inligting in te win en goeie besluite oor behandeling te neem. Die geneesheer neem ‘n aantal dinge in ag wanneer hy bepaal hoe om die kanker te beveg: Of die kanker versprei het, hoeveel en waarheen die kanker versprei het, die pasiënt se gesondheidstoestand, en die pasiënt se ouderdom.
Wanneer die kanker nie versprei het nie kan dit die geneesheer se doel wees om op te tree om die pasiënt te genees of die geneesheer kan besluit om eerder te wag en dinge dop te hou om te sien wat gaan gebeur voor daar op ‘n behandeling besluit word. Die twee benaderings word nog gedebatteer. Aan die een kant sê hulle dat dit vroeg is en die pasiënt genees kan word dus moet daar aan die werk gespring word. Aan die ander kant sê hulle dat vroeë aksie nie genoeg jare aan die pasiënt se lewe byvoeg nie. As die kanker wyd versprei is en genesing baie moeilik of onmoontlik blyk dan skuif die geneesheer se fokus na vertraging van die groei van die kanker en behandeling van die pasiënt se ongemak en pyn.
PSA-toetse is per afspraak by Kansa-sorgsentrums landwyd beskikbaar teen bekostigbare tariewe, om te help om vir die verbruiksartikels wat tydens die toets gebruik word, te betaal. Pasiënte met mediese fonds-voordele kan by hulle mediese fonds terugeis nadat hulle vir die toets betaal het. Die toetse kan ook by plaaslike gesondheidsklinieke gedoen word, of by gesondheidsorg praktisyns, indien die pasiënt simptome het. Vir meer inligting, kontak asseblief vir Lucy Balona, Hoof: Bemarking en Kommunikasie, by KANSA per e-pos lbalona@cansa.org.za. Skakel 011?616 7662 of op haar selfoon 082?459 5230.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
