Om verskeie redes is Jerusalem in die nuus vandag. Psalm 122 roep die gelowiges op om te bid vir die vrede van Jerusalem. Jerusalem was die sentrale plek van aanbidding waar gelowiges heengegaan het om God te aanbid. Dit verteenwoordig die kerk van ouds. Die bede is dat daar rustigheid en vrede binne die mure van Jerusalem sal wees. Omdat die stad so belangrik was, was dit ook nodig om vir Jerusalem te bid.
As daar onrus en verdeeldheid in die kerk is, versprei dit na die ander terreine van die samelewing. So was dit ook in Israel. Vrede en voorspoed in Jerusalem het die welstand en voorspoed van die res van Israel bepaal. Jerusalem was die simbool van die Here se teenwoordigheid. Daarom moes daar stabiliteit en vrede in hierdie hart stad wees. Gelowiges God se werk in en deur die kerk sigbaar moet maak, daarom moet daar ook vrede in die kerk wees. Sonder vrede in die kerk kan mense nie hulle taak volledig verrig nie. Die psalmdigter wens vir hierdie vrede.
Hy bid dat daar ter wille van sy medegelowiges, sy vriende en die voortgaande samekomste, vrede in die stad sal wees. Jy moet daarom vir vrede in die kerk bid. Ons hoor soms van twis en tweedrag in kerke. Elkeen wil eerste wees met min wat besef dat die wat laaste is, eerste sal wees. Die digter spoor ons aan om ander mense tot voorbidding vir die kerk te inspireer. Ons moet almal bid dat daar vrede in die kerk, ook langs die Suidkus sal wees, sodat dit mense kan saambind in hulle geloof in God.
Dis byna Kersfees. In hierdie tyd word ons herinner aan die vrede en welbehae wat met die geboorte van Christus aangebreek het. Die kerk, elke gelowige is draers van Christus se vrede. Dis ‘n vrede wat hart en verstand bewaar. Dis n vrede wat alle verstand te bowe gaan. Wie Christus die Vredevors volg, berus nie in onvrede nie. Dis nou die tyd om die strydbyle te begrawe. Dis nou tyd dat ons bid en werk vir vrede. Veral in die kerk. Dan sal stabiliteit en geluk na die res van die samelewing toe deurwerk.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
