Teen die tyd dat hierdie rubriek gepubliseer word, sal die verkiesing verby wees. Ons kan maar net hoop dat dinge goed verloop het en dat ons binne dae sal weet of daar hoop vir ons land is.
Daar het hier baie min gebeur behalwe politieke gesprekke en die normale bespreking van sportgebeure.
Omdat dit sinneloos sal wees om oor die tendense van die verkiesing te praat, noem ek vlugtig dat ons verlede Vrydag uiteraard in ekstase was oor die Sharks se oorwinning in die EPCR-uitdaagbeker.
Veral oor die manier waarop die Springbok-‘bomb squad’-voorry hul teenstanders vermorsel het.
Ons sien uit na die naweek se wedstryd teen die Blou Bulle. Ook die Lions teen die Stormers.
Die teleurstelling van die week was die Proteas se swak vertoning teen die Wes-Indiese Eilande. Dit voorspel niks goed vir die komende Wêreldbeker-T20-kriekettoernooi nie.
Ewenwel, die rede vir die kort sportverwysings is enersyds omdat vroulief meen ons praat te veel sport, en andersyds om ‘n restaurantstorie met ons lesers te deel.
Dit kom van Joos Venter, ‘n besoeker uit Gauteng: ‘n Man gaan ‘n spogresturant binne en bestel die sop van die dag.
Die kelner verklaar hy sal nie spyt wees nie, want die sjef maak dit elke dag vars van net die beste, varsste, organiese, plaaslike bestanddele.
“Dit klink baie lekker. Kan nie wag om dit te proe nie,” sê die man. “In die haak,” antwoord die kelner, “u sal nie spyt wees nie.”
Enkele minute later bring die kelner die sop. “Bon appetit,” sê die hy en loop weg.
Oomblikke later wuif die man hom om nader te kom. “Ja meneer?”
“Proe die sop,” sê die man. “Ekskuus?” antwoord die kelner. “Proe die sop,” sê die man weer.
“Is daar ‘n probleem? Dis onmoontlik. Dis een van die sjef se spesialiteite. Hy is bekend daarvoor. Hy maak dit al jare lank.”
“Proe die sop,” kom die versoek weer.
Nou senuweeagtig, besluit die klener om die hoofkelner te roep.
By die tafel vra die hoofkelner: “Is daar ‘n probleem meneer?”
“Proe die sop,” sê die man. “Meneer, daar kan geen probleem wees nie. Die sjef is oral bekend vir hierdie sop.”
“Proe die sop,” kom die versoek weer. Die hoofkelner gaan roep die eienaar.
Dieselfde gebeur met hom. “Proe die sop,” hou die man vol.
Uit desperaatheid roep hulle die sjef. Hy is nie beïndruk nie en sy gesig is stroef.
“Proe die sop,” hou die man vol. “Monsieur,” verklaar die sjef, nou smoorkwaad. “Jy beledig my. Ek is reeds 25 jaar die sjef hier, ek het talle inernasionale toekennings verwerf. Ek kan enige plek op aarde werk, en jy vra my om my eie sop te proe? Nadat ek dit reeds in die kombuis getoets het?”
“Proe die sop,” kom die versoek vir die soveelste keer. “Proe die sop, proe die sop! Is dit al wat jy kan sê?”
Die sjef sukkel om kalm te bly. “Nou maar goed, ek sal die sop proe!”
Hy soek op die tafel. “Hier is nie ‘n lepel nie.”
“Aha,” sê die man.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
