Sarah Spies volg haar Abrie +
Die uwe het oor ’n tydperk van 20 jaar baie met hulle te doen gekry, en dit was altyd ’n groot plesier om in hul geselskap te wees.

Nog ‘n baie bekende en geliefde inwoner van die Suidkus, Sarah Spies, is verlede Vrydag oorlede, 84 dae na haar man, Abrie Spies. Die egpaar Spies was oor die jare van die bekendste inwoners van St Michael’s, indien nie die bekendste egpaar nie, en daar is min mense hier en onder vakansiegangers wat nie op die een of ander tyd interaksie met hulle gehad het nie. Die uwe het oor ’n tydperk van 20 jaar baie met hulle te doen gekry, en dit was altyd ’n groot plesier om in hul geselskap te wees. Hulle was ware pioniers, en het oor baie jare hul stempel op die laer Suidkus afgedruk.
Hul seun Danny vertel sy moeder het twee dae ná Oom Abrie se begrafnis geval, en kop- en heupbeserings opgedoen. Sy was daarna nooit weer dieselfde mens nie. ’n Operasie het nie gehelp nie, en sy het stadig maar seker agteruitgegaan totdat sy oorlede is. Sy was 90 jaar oud, en sy en Abrie was 72 jaar getroud. Hulle het mekaar op die dansvloer in Ladysmith ontmoet toe Abrie, wat ’n kranige musikant was, in ’n orkes gespeel het. Ná hul troue het hulle Suidkus toe verhuis. Danny vertel onderwyl sy pa opeenvolgens op ’n suikerplaas in Hibberdene, ’n pynappelplaas in Umzumbe en ’n beesplaas in Oribi Gorge geboer het, was sy ma die bestuurderes van ’n Foschini-klerewinkel in Port Shepstone.
Hy sê sy ma het in die vroeë sewentigerjare ’n fantastiese verhouding opgebou met sowel die blanke as die swart en Indiërgemeenskappe van Port Shepstone. Al die moeders het hulle dogters na Sarah toe gebring om behulpsaam te wees met hul matriekafskeid-rokke en toebehore omdat sy so op die hoogte was van die modes van daardie tyd. Sarah was in haar later jare ook bekend dat sy altyd netjies aangetrek was in pas met die nuutste modes. In 1978 het Abrie en Sarah die gebou en grond in Shelly Beach/St. Michael’s gekoop, wat later as die Abrie Spies-gebou bekend sou word, en die onderneming Abrie Spies-eiendomme en Verhuring in ’n klein kantoortjie gestig. Later is nog vyf winkels/kantore aangebou.
Danny het daarop gewys dat sy ma ook altyd saam met sy pa betrokke was by die gemeenskap ten opsigte van geldinsameling vir skole, kerke en talle ander organisasies. Hulle was onder meer stigterslede van die Hoërskool Suid-Natal en die NG Gemeente Margate, was baie gemeenskappe, blank, swart en Indiër, van hulp, en het in die proses oor baie jare baie sterk bande met hulle opgebou.
Hulle was oral geliefd, en mense soos die karwagte en petroljoggies het hulle op hul name genoem. Hy sê sy ouers het nie gediskrimineer tussen ryk, arm of ras nie, en hy is oortuig daarvan almal sal hulle onthou vir hul regverdigheid in die lewe. Ekself onthou albei van hulle, veral Abrie, as groot ondersteuners van die South Coast Fever, en in die besonder die Afrikaanse berigte. Hulle het oor baie jare elke Donderdag ’n groot voorraad in hul kantoor aangehou, en aan besoekers en vakansiegangers uitgedeel.
Die Spies-egpaar het vier kinders in die lewe gebring, en het 11 kleinkinders en nege agter-kleinkinders. Sarah se begrafnis is Vrydagmiddag, 17 Januarie, in die NG Kerk Margate, en die diens sal nie so groot soos Abrie s’n wees nie.
RIV Sarah. Jy en Abrie was sierade. Ons gaan julle mis.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page