Mynmaatskappye sak toe op Hluhluwe-iMfolozi
Een van die belangrike faktore wat stukrag gee aan die jongste eksplorasiepogings is ongetwyfeld die nabyheid aan die groot uitvoerhawe van Richardsbaai.
Die uwe volg verskillende aspekte die wel en weë van die bekende Hkuhluwe-iMfolozi reservaat hier in KZN reeds baie jare, onder meer die stryd teen die renosterstropers, maar ’n berig in die jongste Daily Maverick oor ’n heel ander aspek, was ontstellend, om die minste te sê. Dis geskryf deur Tony Carnie, wat berig die reservaat is nou feitlik heeltemal omring deur gebiede waarop fossielbrandstof entrepreneurs hul toespits, hoofsaaklik diegene wat hul visiere op steenkool ingestel het.
Hy skryf verskeie relatief onbekende mynmaatskappye het oor die afgelope paar jaar aansoek gedoen om prospekteerregte baie na aan die 130-jaar oue wildreservaat, hoofsaaklik buite die ‘geen mynaktiwiteit-sone’ van vyf kilometre wat deur die bewaarders van die park, Ezemvelo KZN Wildlife, geproklameer is.
Van die prospekteerders het egter hul aandag uitgebrei tot gebiede reg tot teenaan die reservaat se grensdraad. Dit beteken dat, met die uitsondering van die reservaat se noordelike en suidelike eindpunte, Hluhluwe-iMfolozi nou omring is met ‘muur-tot-muur’-myn en prospekteer-eise. Sommige van hierdie eise is wel teruggetrek, maar dit beteken wel indien ekonomies-ontginbare minerale gevind en nog mynregte deur die Minister van Mynwese en Petroleumbronne, Mnr Gwede Mantashe, toegeken word, sal die maatskappye toestemming hê om daaglikse dinamiet-ontploffings te laat gebeur of strook-mynbou reg langs Ezemvelo se vlagskip-bewaringsgebied en toeriste-aantreklikheid te bedryf.
Die iMfolozi-deel van die reservaat bevat ook Suid-Afrika se eerste wildernissone (’n spesiaal aangewese gebied van 30 000 hektaar waar geen voertuie, paaie of permanente strukture toegelaat word nie om sy ‘oergrondkarakter’ te bewaar. Toeriste kan dit slegs te voet binnegaan in begeleide toere, en in tente of onder die sterre slaap. Carnie en Daily Maverick berig buite die reservaat sal meer ontdekkings van steenkool-neerslae ’n reeks gevolge vir die plaaslike bevolking hê, wat kan insluit die potensiële verlies van hul tradisionele blyplekke, boerdery- en weigrond, of die daaglikse blootstelling aan wolke steenkoolstof, ontploffingsgeraas en ander nadelige gevolge van mynbedrywighede.
Een van die belangrike faktore wat stukrag gee aan die jongste eksplorasiepogings is ongetwyfeld die nabyheid aan die groot uitvoerhawe van Richardsbaai. Volgens die jongste assesseringsverslag van die Internasionale Energievereniging het die globale produksie en verbruik van steenkool sedert die Covid 19-pandemie van 2020, veral ná die Russiese inval in die Oekraïene, met rekordsyfers toegeneem.
Die jongste prospekteer-aansoek is ingedien deur die Johannesburg-gebaseerde Afri in Transit-groep. Dit dek ’n stuk gemeenskapsgrond van 7 500 hektaar in die Somkhele-gebied, reg teen die grens van Hluhluwe-iMfolozi. Hierdie junior myngroep, waarvan die basis in die Sinosteel-gebou in Rivonialaan, Sandton is, het klaarblyklik die ‘haelgeweer-metode’ gebruik, en aansoek gedoen om prospekteerwerk te doen en boorgate te sink vir ’n wye reeks mineralebronne, onder meer torbaniet, pseudosteenkool, steenkool, olieskalie, litium, kalksteen, ystererts die swaarminerale grafiet en vloeispaat. Volgens AIT se webwerf voer hy betekenisvolle volumes steenkool na Indië en Europa, en magnetiet na China toe uit.
Die maatskappy se omgewingskonsultant het ’n agtergrond-dokument gesirkuleer waarin belangstellendes en betrokke groepe gevra word om ’n openbare konsultasieproses te registreer. Tony Carnie berig die maatskappy het nie gereageer op die Daily Maverick se herhaalde versoeke om te verklaar waarom hy op so ’n omgewingsensitiewe gebied konsentreer nie.
AIT is nie die enigste maatskappy wat belangstel in gebiede rondom die reservaat van 96 000 hektaar nie, en daar is aanduidings dat meer as ’n dosyn myn- of prospekteer-aansoeke tov. gebiede teenaan die reservaat ingedien is. Twee ander maatskappye, die Zululand Anthracite Colliery, en Tendele Coal Mining, bedryf reeds verskeie oppervlak-mynaktiwiteite teenaan die reservaat, en dit het reeds tot groot omstredenheid gelei.
Onder meer weens die besoedeling van die Mfolozirivier deur suur-mynwater, die onwettige vestiging van oppervlak-myngate, die verskuiwing van woonplekke en verskeie ander optredes. Carnie verwys na verskeie ander regsaksies as gevolg van die mynbedrywighede, maar die maatskappye verweer hulself deur te verklaar hulle skep talle werkgeleenthede en verskaf steenkool aan betrokke nywerhede. In die lig hiervan en die nuwe aansoeke, het Ezemvelo KZN Wildlife streng beswaar gemaak, en daarop gewys dat die beoogde aktiwiteite ‘n groot bedreiging vir die reservaat inhou.
Daily Maverick verwys na verskeie ander gebeure en verwikkelinge met betrekking tot aansoeke, te veel om hier te noem, en dit is baie duidelik Hluhluwe-iMfolozi het hier ’n groot bedreiging op hande. Een van die regsverteenwoordigers van die organisasies wat teen die aansoeke gekant is, het verklaar hul ondervinding is dat die regering se reaksies op hierdie soort aansoek dikwels skeefgetrek word deur die beloftes van werkskepping en ander sosio-ekonomiese voordele, sonder dat die ernstige nadelige gevolge vir die betrokke gemeenskappe en die reservaat in ag geneem word.
Dis algemeen bekend dat minister Mantashe ’n voorstander van steenkoolkrag is. Daar kan dus bloot gehoop word dat hy die regte besluite sal neem om Hluhluwe-iMfolozi se toekoms te verseker. Indien mynmaatskappye tot teenaan die reservaat kan beweeg, ontstaan die vraag hoe lank voordat hulle binne-in is? Dit klink alarmisties, maar dit is tog moontlik. Of hoe?
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
