South Coast Fever

’n Geskiedkundige mylpaal van die verre verlede

By wyse van afwisseling vandeesweek weer ’n blik op op die verre verlede met die fokus op ’n prestasie op die atletiekbaan wat as onmoontlik geag is. Vandeesweek presies 71 jaar gelede in Oxford, Engeland, is nie net ’n wêreldrekord verbeter nie, dit het bewys gewaande beperkings op die menslike uithouvermoë en potensiaal kan met

By wyse van afwisseling vandeesweek weer ’n blik op op die verre verlede met die fokus op ’n prestasie op die atletiekbaan wat as onmoontlik geag is. Vandeesweek presies 71 jaar gelede in Oxford, Engeland, is nie net ’n wêreldrekord verbeter nie, dit het bewys gewaande beperkings op die menslike uithouvermoë en potensiaal kan met die nodige toewyding oorkom word. Die uwe was nog nie tien jaar oud nie, maar die dag toe my pa ons opgewonde meegedeel het ‘n Britse atleet met die naam Roger Bannister het die myl in onder vier minute afgelê, was dit groot nuus. Die volgende dag by die skool het almal daaroor gepraat omdat die atleet ’n fenomenale prestasie behaal het. Die naam Roger Bannister was op almal se lippe.

Toe die 25-jarige Bannister, ’n mediese student aan die Universiteit van Oxford, op 6 Mei 1954 die myl in 3 minute 59.4 sekondes afgelê het, was dit ’n simbool van menslike ambisie met deursettingsvermoë en ’n ysere wil wat oor skynbare onoorkombare versperrings getriomfeer het. Bannister se aanvanklike liefde was fietsry, en hy het eers laat in sy skoolloopbaan in atletiek begin belangstel. Hy het nie net op die fisiese aspek van atletiek gefokus nie, maar ook met ’n analitiese ingesteldheid agv. sy mediese akademiese agtergrond. Hy het uiteindelik op Oxford as ’n geneesheer gekwalifiseer, later ’n neuroloog geword. Hierdie kombinasie van intellektuele en atletiese vermoëns het sy benadering destyds uniek gemaak, en ’n deurslaggewende rol in sy welslae gespeel.

Om die myl in minder as vier minute af te lê was vir hom nie bloot ’n fisiese doelstelling nie. Hy het homself intens geestelik daarvoor voorberei. Die rekord wat hy wou breek was 4 minute 1.4 sekondes, wat die Sweedse atleet Gunder Hägg in 1945 opgestel het. Jarelank het kenners aanvaar die menslike liggaam was nie in staat om die myl in minder as vier minute af te lê nie, omdat niemand die nodige spoed oor so ’n afstand sou kon handhaaf nie.
Bannister het besluit hy sou hulle verkeerd bewys met die korrekte strategie, oefening en geestelike deursettingsvermoë. Bannister het nie bloot probeer vinniger hardloop nie. Hy wou ’n beter begrip kry van die menslike liggaam se fisiologiese beperkings, en hoe om dit te oorkom. Hy het sy oefenprogram sorgvuldig uitgewerk, nie net om sy hardlooptegniek te verbeter nie, maar ook om sy wilskrag en deursettingsvermoë op te bou sodat hy intense spierpyn en moegheid kon trotseer. Hy het bv. sy oefeningprogram in seksies opgedeel, iets wat destyds ’n nuutjie was, en gefokus op kort periodes van intense oefening gevolg deur tye van herstel. Dit het Bannister in staat gestel om sy spoed te verbeter sonder om sy liggaam te oorbelas.

Onderwyl hy so intens geoefen het, het hy sy studies nie afgeskeep nie. Hy sou dikwels snags oefen na ’n dag se lang klasperiodes en hospitaalwerk. Sy toewyding was ongekend, en elke myl wat hy gehardloop het, het groot eise aan sy liggaam en sy psige gestel. Hy het nogtans met ’n ysere wil deurgedruk, vasbeslote om in sy doel te slaag. Op die dag toe hy die rekord gebreek het, was die weer nie ideaal nie, met ’n koue wind wat aanvanklik oor die baan gewaai het.

Hy was ook deeglik bewus daarvan dat sy vorige pogings om die rekord te breek, gefaal het. Onder die omstandighede was die druk op hom aansienlik, want hy het volgehou wat hy probeer doen het, wàs moontlik. Bannister moes staatmaak op twee pas-aangeërs, Chris Chataway en Chris Brasher, wat hom tydens die eerste drie rondes sou bystaan.

Toe Bannister die middag vir die wedloop aantree, was hy die middelpunt van belangstelling vir baie mense wêreldwyd, veral weens die vooraf-publisiteit. Die BBC sou dit uitsaai, en die atmosfeer was elektries. Vier minute lank het Roger Bannister sy liggaam tot die uiterste toe gedryf, en toe hy in onder vier minute by die wenpaal aankom, het ’n oorverdowende gejuig opgeklink, en is die atletiekwêreld vir altyd verander. Hy het sy doel bereik en sy droom is bewaarheid. Hy was onmiddellik ’n internasionale held. Sy prestasie het atlete wêreldwyd geïnspireer om ook te bereik wat hulle as onmoontlik beskou het.

Nie lank daarna nie, het ander atlete ook die myl in minder as vier minute afgelê. Die Australiër John Landy het dit 46 dae na Bannister gedoen, gevolg deur talle oor die jare daarna. Bannister het op 25 uit atletiek getree en op sy mediese studies gefokus. Hy het ’n merkwaardige loopbaan as neuroloog en akademikus gehad, het ’n aantal boeke geskryf oor die mediese wetenskap en sport, met ‘n spesiale fokus op die menslike- en sport-fisiologie. Hy was deurentyd nederig, het groot bewondering afgedwing, en was ’n rolmodel vir duisende atlete en medici. Sy nalatenskap is inderdaad iets besonders. Sir Roger Bannister is in 2018 in die ouderdom van 88 jaar oorlede, nadat hy in 2011 met Parkinson se Siekte gediagnoseer is.

Terloops, die huidige rekord vir die wedloop oor een myl is 3:43.13, en vir vroue 4:07.64. Wonder of daar moderne Roger Bannisters is? Of is die limiet nou finaal bereik?

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button