South Coast Fever

Boeta die bielie van ‘n Brahmaanbul

Op ‘n Dinsdagoggend kom James, een van my werkers aangehol, en vertel daar is groot fout met Boeta.

Die uwe het verlede week na landbouprogramme op KykNet, van my gereelde kykstof, gesit en kyk, en was besonder beïndruk met ‘n verslag oor ‘n top-Brahmaanbees-stoetery in die Vrystaat. Veral met die moderne wetenskaplike metodes wat deesdae gebruik word om top stoetdiere te teel. Ek was tegelyk verbaas en verstom oor die grootte van hierdie beeste, en het my verbeel hulle was nie in my jonger dae só groot nie. Juis daarom is ek herinner aan ‘n humoristiese storie oor ‘n Brahmaanbul wat ek enkele jare gelede op die internet raakgeloop het. Of dit werklik gebeur het, weet ek nie, maar dit bly lekker, snaakse leesstof, en ek het besluit om dit by wyse van inhouds-afwisseling met Feverlesers te deel.

Hierdie spesiale Brahmaanbul, met die naam Boeta, se eienaar vertel: “Ek het Boeta gekry toe hy so drie maande oud was. Die weer het sy ma doodgeslaan en ek moes hom grootmaak. Hy was ‘n pragdier en ‘n Brahmaanbul. Wat kortliks beteken dat hy geen, maar geen, bollie van enigiemand gevat het nie. Hy was meer ‘n pêl as ‘n plaasdier. Hy het oral op die plaas saamgedraf. As ek plant, was hy daar. Sy tuiste was die Kikoejoekamp oorkant die pad. As ek die motorfiets en haelgeweer vat om eende by die dam te gaan jag, het hy saamgedraf en benoud gebulk as ek te vinnig ry. Daar gekom, het hy op die wal gaan lê en ek het myself agter hom tuisgemaak. Die eende het nooit verwag dat ek agter die reusagtige bul vir hulle sou sit en wag nie. Dit was die perfekte hinderlaag. Hy het laatmiddag, elke dag, op die stoep kom lê om die dag se gebeure te bespreek. Daarna het ek saam met hom oor die pad na sy kamp toe gestap. Oggende was dieselfde storie. As een van sy verse of koeie gekalf het, het hy my geroep en gevat om na die kalfie te gaan kyk. Die kinders het op sy rug gery.

Op ‘n Dinsdagoggend kom James, een van my werkers aangehol, en vertel daar is groot fout met Boeta. Toe ek Boeta se kamp instorm, sien ek die res van my werkers op die kampong se dak sit. Asvaal en bewend van skok. Toe ek Boeta sien het ek besef hier is groot probleme. Boeta was nie vies of kwaad nie, hy was net goed de m**r in. Hy het hard gebulk en gevloek en loopgrawe uit die Kikoejoe met sy pote uitgeskrop. Mooipraat het niks gehelp nie, hy wou net mooi niks van my af weet nie. Die naaste draad was so vyftig meter van my af, Boeta was ook so vyftig meter van my af. Ek het eers na Boeta gekyk en daarna na die draad. Boeta het dieselfde gedoen. Ons was albei besig met ernstige wiskundige berekenings. Ek of ek die draad gaan haal voordat Boeta my skraap, en Boeta of hy my gaan beetkry voordat ek die draad haal. Agter die draad was ‘n laning turksvye met ‘n voetpad van so een meter deur hulle. Ek het geweet ek moes die draad in lyn met die voetpad tref. Ek wou nie soos ‘n Ystervark lyk sou ek die turksvye tref nie. Onder luide toejuiging van my werkers het ek weggetrek draad toe, dit met ‘n aanprysingswaardige spoed genader en met ‘n sierlike duikslag daaroor getrek. Onderwyl ek in die lug was, het ek my beoogde landingstrook van nader besigtig. Ek het met ontsteltenis opgemerk dat daar op die plek waar ek sou land, so ‘n voet uitmekaar, drie reusagtige, groot, vars miskoeke was.

Ek het my oë styf toegeknyp, my lippe saamgepers en my neus op ‘n knop getrek. Ek het daardie vars beesmis, gesig eerste, getref, ek eers vier meter later tot stilstand gekom, van toon tot kroon met vars beesmis besmeer. Ek het my hemp uitgetrek en met die hemp se agterkant my gesig begin afvee. Ek het skielik ‘n harde klapgeluid gehoor en die grond het begin bewe. Ek het dadelik besef Boeta het oor die draad gespring, my oë toegehou en sy warm asemhaling in my gesig gevoel en gehoor. Voorbereid op die ergste. Die volgende oomblik het hy my met sy growwe tong deur die gesig gelek. Die verligting was ongelooflik. Ons het saam na die suipkrip toe geloop waar ek my gesig afgewas het. Ons het saam die tog huis toe aangepak, en Boeta het heeltyd speels aan my gestamp. Ek het eers gedink dit was sy manier om om verskoning te vra, maar later besef die donnerse bul was besig om vir my te lag. By die huis gekom, het my vrou net opgekyk en aangehou brei. Sy het nie eers gevra wat gebeur het nie. Ek het gaan stort en gewapen met ‘n bottel Red Heart op die stoep gaan sit. Boeta het hom by my voete tuisgemaak.

Ons het later uitgevind dat Boeta so moerig was omdat van die skoolkinders hom, op ‘n baie sigbare en sensitiewe plek, met ketties geskiet het. Ek gaan nie uitbrei nie, want as Tutu hoor wat ons met hulle gedoen het, gaan hy verseker sy Lieg en Bieg-kommisie heropen”.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button