South Coast Fever

Wouter se Watergat: Wat het van die Sharks se aanvallende spel geword?

Die foutfaktor speel ook ‘n groot rol, en dit sal reggestel moet word indien hulle Munster wil klop. Wanneer gaan Lukhanyo Am weer ‘n vonk in die agterlyn wees?

Die groot politieke besprekingspunt hier in die Watergat die afgelope week was die ontmoeting tussen President Ramaphosa, lede van sy kabinet, en President Trump en sy mense in die Withuis in Washington. Ek kan nie in besonderhede ingaan op wat gesê is nie, behalwe my oorkoepelende waarneming dat daar aan albei kante soveel onwaarhede met waarhede gemeng is, met die gevolg dat dit baie moeilik is om die kaf van die koring te skei. Die groep Afrikaners wat reeds in Amerika is as emigrante op uitnodiging van President Trump, kompliseer die narratief verder, en daar was ‘n paar warm gesprekke onder ons besoekers. Dit is duidelik die emosies loop hoog, soos elders in die land, en dit sal interessant wees om te sien hoe die Suid-Afrikaners behandel gaan word, oftewel is, want teen die tyd hierdie rubriek gepubliseer word, sal die besoek reeds verby wees. Ek kan net hoop dat President Ramaphosa, met al die negatiewe politieke bagasie wat hy dra , nogtans daarin kon slaag om sy man teen die Amerikaanse president te staan. Foute en al, hy is uiteindelik tog nog ons president.

‘n Groot onderwerp in die rugbygesprekke was die tipe rugby wat die Sharks deesdae speel. Hulle het Saterdag wel gewen, die vierde agtereenvolgende oorwinning, maar dit was nie ‘n ‘mooi’ oorwinning nie. Verskeie besoekers het opgemerk die aanvalsfaktor speel deesdae ‘n baie Kkeiner rol in hul spel. Hul verdediging is puik, waarskynlik die grootste rede vir hul oorwinnings, maar hul aanvallende vermoë van die verlede het kwaai afgeneem. Die foutfaktor speel ook ‘n groot rol, en dit sal reggestel moet word indien hulle Munster wil klop. Wanneer gaan Lukhanyo Am weer ‘n vonk in die agterlyn wees?

Ons loopstorie: Die seuntjie vra sy juffrou om hom te help om sy skoene aan te trek. Teen die tyd wat die juffrou by die tweede vellie kom, breek daar al ‘n lagie sweet op haar voorkop uit en begin haar hare al slierte hang soos sy stoei om die vellies aan die kind se voetjies te kry. Die bulletjie sê deur sy vier afwesige voortandjies, “Juffwou, hierie eerthte vellie ith aan die verkeerde voet.” Dit gee nóg ‘n hengse gespook af. Die juffrou hou kop en begin maar weer om die vellie aan die régte voet aan te trek, steeds met ‘n groot gesukkel. Amper klaar, kondig die mannetjie aan: “Juffrou hierie ith nie my vellieth nie.“ Sy ontplof byna, maar hou kop en sê kalm, “Hoekom het jy nie vroëer iets gesê nie?” Die gestoei begin weer om die vellies uit te trek. Pas is die vellies uit of meneertjie sê weer: “Dith my boetie the vellieth. My ma het gesê ek moet dit vandag dra want myne is weg.” Die juffrou sluk droog, skraap al haar moed bymekaar en begin weer stoei om die vellies aan die voetjies te sit. Uiteindelik is hulle weer aan die mannetjie se voetjies. Dis toe dat hy trek aan die juffrou se baadjie en vra verleë; “Juffwou, wat van my kouthe?” Juffrou skree, “Nou waar is jou vervlakse kouse dan??!!” Die knapie sê: “Dith voor in my vellieths.”

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button