Dick King: groot koloniale held van Port Natal
Sy epiese tog het daarvoor gesorg dat hulp per skip aan die Britte in Durban gestuur, die Voortrekkers verslaan en hulle genoodsaak was om binneland toe pad te gee.
In Port Shepstone en op verskeie ander plekke in KZN en Oos-Kaapland is daar gedenktekens ter ere van hom, in Durban is daar standbeelde, en onder meer ’n rugby- en krieketveld na hom vernoem. Hy word algemeen as een van die grootste helde van die destydse koloniale Natal beskou, en die man wat vandeesweek 183 jaar gelede die feitlik onmoontlike vermag het deur amper ’n duisend kilometer van Durban af na Grahamstad te perd af te lê om by die Britse garnisoen daar hulp te gaan soek teen die Voortrekkers wat die Britte in Durban in ’n militêre konfrontasie vasgekeer het.
Sy epiese tog het daarvoor gesorg dat hulp per skip aan die Britte in Durban gestuur, die Voortrekkers verslaan en hulle genoodsaak was om binneland toe pad te gee. Wat basies die einde van hul teenwoordigheid in beteken en Port Natal/Durban finaal aan die Britse koloniste oorgelaat het.
Die man was Richard Philip (Dick) King, wie se ouers uit Gloucestorshire oorpronklik as Britse setlaars in Oos-Kaapland beland het. King het as agtjarige op die Kennerley Castle in 1820 in Tafelbaai aangekom saam met sy ouers wat van ’n sukkelbestaan af wou wegkom. Hulle is 40 hektaar grond in Oos-Kaapland belowe, het hulle naby Bathurst gevestig, maar die grond was kaal en onherbergsaam, en hoewel hy geleer lees en skryf het, moes Dick vroeg reeds begin werk om die gesinsinkomste aan te vul.
Op 15-jarige leeftyd het die avontuurlustige jong man wat goed kon perdry, skiet en swem, besluit om Port Natal toe te gaan nadat hy verhale oor die jagters en handelaars in die gebied gehoor het. Hy het saam met ’n geneesheer en sy vrou wat per skip onderweg Delagoabaai toe was, gereis, in Durban agtergebly, en by die Britse gemeenskap daar ingeskakel.
Hy het met die Zoeloes begin handel dryf, en hulle taal aangeleer. Nà ses jaar in Port Natal was King so ingeburger dat hy as gids opgetree het vir die afvaardiging van die Voortrekker Piet Uys wat Dingaan wou besoek. King het eers alleen na Dingaan se kraal gegaan om uit te vind of die koning van die Zoeloes die Boere te woord sou staan. Met Dingaan se instemming het King hierna verskeie kere as gids opgetree vir besoekers aan Dingaan se kraal. King het uiteindelik na Port Natal teruggekeer. Die setlaars was nie gerus oor die veiligheid van hul nedersetting nie, en het verwag Dingaan sou enige dag van sy impis soontoe stuur. ’n Fort is gebou en ‘n leër met Britse setlaars en hul swart soldate is op die been gebring.
King was een van die luitenante. Piet Retief en sy Voortrekkers het hierna daar aangekom om met Dingaan oor grond te onderhandel, maar tot die setlaars se ontsteltenis is Piet Retief en sy volgelinge deur Dingaan vermoor. Toe King van Dingaan se optrede teenoor Piet Retief verneem, het hy onmiddellik ingestem om die ander Voortrekkers te gaan waarsku. Hy het sowat 160km afgelê en saam met die Voortrekkers teen die Zoeloes geveg.
Nà die Slag van Bloedrivier is die regering van die Republiek Natalia vir twee jaar aan die Boere oorgedra, maar die Britte in die Kaap het egter bekommerd geraak oor die gevolge van die Boere se houding teenoor die Zoeloes en het besluit om Natal te beset. Die Britse troepe, onder leiding van kaptein Thomas Charlton Smith, het egter teenstand van die Boere onder leiding van Andries Pretorius gekry, en Smith en sy manne is in die fort vasgekeer.
Smith het via ’n boodskapper ’n versoek tot King gerig om te gaan hulp soek. Twee perde is aan hom verskaf en hy het sy getroue hulp, die 16-jarige Ndongeni, gaan haal om saam met hom in die Kaapkolonie te gaan hulp soek. King en Ndongeni verttrek op 26 Mei 1842, en reis so na as moontlik aan die kus om die Boere te vermy. Hulle moes ook deur al die riviere swem omdat die Boere waarskynlik al die oorgange in die binneland bewaak het.
By Buntingville kon Ndongeni nie verder nie omdat hy sonder ’n saal gery en beserings opgedoen het. Ofskoon King twee dae moes rus omdat hy te siek was om verder te ry, het hy die tog van 960km na Grahamstad binne 10 dae afgelê. Sy perd het kort ná sy aankoms van uitputting gevrek. King het die boodskap aan die Britse bevelvoerders oorhandig, en versterkings is onmiddellik per boot na die garnisoen in die fort in Durban gestuur. Dit is in ’n geveg ontset, en dit was die einde van die Republiek van Natalia.
Sommige van die Voortrekkers het na die Britse oorname in Natal aangebly, maar die meeste het begin terugtrek na die streke wes van die Drakensberge. Intussen het King die eienaar van ’n plaas by Isipingo geword en ’n slaghuis in Durban geopen. Hy is getroud met ’n Britse meisie, Clara Noon. Oor die rit wat hy binne 10 dae afgelê het, het hy nooit ’n woord gerep nie. Hy het die ontbering as normaal beskou vir enige man wat iets vir sy land en sy mense wou doen. Hy is in 1871 oorlede. Ndongeni het in 1911 meer besonderhede van die merkwaardige rit in ’n onderhoud verskaf.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page



