South Coast Fever

Wouter se Watergat: Jake White simpatiseer met Plumtree

Hy sal aanstaande seisoen in ’n ‘mentor en raadgewer’ vir ’n nuwe afrigter verander.

Ons het ’n stillerige week agter die rug, met wisselvallige, tipiese Novemberweer wat nie altyd bevorderlik is vir ’n rustige gemoed nie.
Voeg daarby volgehoue klagtes van ons klante oor die water-onderbrekings, veral in Margate, gerugte van politieke binnegevegte binne die munisipaliteite wat dienslewering beïnvloed, die algemene politieke toestand in die land met die daaglikse verslae oor die korrupsie-aantygings in die polisie, die verdeeldheid, veral onder Afrikaners, oor die briewe wat geskryf is ivm. wie praat namens wie wanneer Donald Trump se beleidsrigtings ter sprake is, en die resep is daar nie net vir ’n depressiewe atmosfeer nie, maar bekgevegte wat enige tyd kan uitbreek omdat die emosies so hoog loop. Daarom het Oom Pottie en ek ons hande vol om gemoedelikheid te laat seëvier, veral wanneer Bacchus ook sy eiertjie te lê het. Gelukkig het ons tot dusver daarin geslaag.

Wat natuurlik gehelp het was die Springbokke se groot oorwinning oor Japan, en die Protea-vrouekrieketspan se vordering tot in die eindstryd van die Wêreldbeker-toernooi. Die beste span, Indië, het gewen, maar ons vroue het niks om oor skaam te wees nie. Veral Laura Wolvaardt het bewys sy is seker op die oomblik die bestendigste vroue-kolwer ter wêreld. Knap gedaan. Ewenwel, die Franse wag vir die Bokke in Parys, en een ding is seker, hulle gaan alles op die spel plaas om hul nederlaag in die Wêreldbekertoernooi twee jaar gelede te wreek. In Parys. Voor hul tuisskare.

Oom Pottie reken die Bokke gaan redelik maklik wen want volgens hom is die Franse nie naastenby die span van twee jaar gelede nie. My bekommernis is dat Ox Nche nie daar is nie, en een van die groot faktore vir ’n Bok-oorwinning is dominansie in die skrums. Ons kan nietemin nie wag nie.

Intusen duur die woelinge in die Sharks bestuursopset voort. Soos ons vermoed het, sal John Plumtree net tot die einde van die seisoen die hoof-afrigter wees. Hy sal aanstaande seisoen in ’n ‘mentor en raadgewer’ vir ’n nuwe afrigter verander. Ons het nie ruimte om hierop in besonderhede in te gaan nie, want daar is nog vele onduidelikhede en onses insiens oëverblindery aan die gang.

Plumtree kan nie ’n baie gelukkige mens wees nie. Die oud-afrigter van die Bulle, Jake White, het groot simpatie met hom, en blameer die stelsel wat afrigters benadeel. Hy verwys onder meer na die hoeveelheid kompetisies, en bepalings oor spelers se rusperiodes ens. Daar is talle struikelblokke in hul pad. Spelers is ook geneig om nie verantwoordelikheid vir hul foute te aanvaar nie, sê White, maar om die afrigter te blameer.

White beskou die situasie by die Sharks as ’n poging om te wys iets word gedoen en leierskap uitgeoefen om die kritiek teen die franchise te troef, maar terselfdertyd die bestuur se rûe te beskerm. Dit beteken indien die Sharks groot sukses later in die seisoen behaal, sal Plumtree aanstaande seisoen ’n direkteursposisie kry, maar indien dit nie gebeur nie, is sy dae getel. Maak vir my siniese sin. Ongelukkig vir Plumtree.

Ons loopstorietjie is deur Oom Pottie by Piet Schlebush van Hibberdene gehoor: Jou ma is so kort, ’n mens kan haar voete op haar rybewysfoto sien.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button