Stiltetyd: Bemoedig eerder as afkraak
Daar is baie mense wat pyn dra, verhoudings wat seergekry het omdat God se kinders nie Jesus se opdragte ter harte neem nie.
Christene is mense wat gesonde oordeel aan die dag behoort te lê. Christene is mense wie se leefstyl nie deur ’n gees van veroordeling gekenmerk word nie. Jesus sê in Lukas 6:37 en 38 aan Sy dissipels dat hulle nie moet oordeel nie, dan sal hulle beslis ook nie geoordeel word nie.
Hy sê ook dat hulle nie moet veroordeel nie, dan sal hulle nie veroordeel word nie. Vergeef, dan sal hulle vergifnis ontvang. Met die maat waarmee Sy volgelinge meet, sal vir hulle afgemeet word.
Die wêreld meet streng, veroordeel en hou boek oor elke fout. Maar Jesus wys vir ons ’n nuwe weg: die weg van genade. Nie omdat mense dit verdien nie, maar omdat Hy ons in Christus genadig was. Ons is geroep om te leef soos mense wat deurdrenk is van die goeie nuus, mense in wie Christus deur Sy Gees woon.
Wat is die impak of betekenis van Jesus se woorde vir ons vandag? Ons lewe in ’n tyd van kits-oordele. Mens kan net die sosiale media volg en sien hoe venynig ons kan kommentaar lewer op ’n plasing. Huweliksmaats maak mekaar seer met opmerkings wat soos skerp dolke wonde laat en moeilik heel. Christene is gou om ander Christene af te skryf. Ons is almal skuldig.
Daar is baie mense wat pyn dra, verhoudings wat seergekry het omdat God se kinders nie Jesus se opdragte ter harte neem nie. Ons kan begin deur mense nie met harde etikette vas te pen nie. Ons kan eerder bemoedig as om af te kraak. Ons leer vergewe eerder as om boek te hou van die kwaad.
Jesus se woorde is nie ’n oproep tot toegeeflikheid nie. Dit beteken nie dat ons nie die sonde mag aanspreek of die gawe van onderskeiding aan die dag moet lê nie. Inteendeel, Christene het meer onderskeiding nodig, want alles is deesdae gangbaar. Ons moet egter nie ander se motiewe raai voor ons nie in hulle skoene probeer staan het nie.
Ons moet nie God se plek probeer inneem en mense summier afskryf nie. Alles, alles is genade, onverdiende guns alleen. Christus se volgelinge meet daarom altyd met God se maat. Hy gee in grootmaat. Hy gee Sy enigste Seun.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
