Wouter se watergat: Eben se erge brein-flatulensie
Mense vermoed daar was provokasie, maar wat hy gedoen het was onvergeeflik.
Uit gesprekke hier in die Watergat die afgelope paar dae was daar een gewaarwording wat my nogal ontstel het: Die groot verdeeldheid onder blanke Suid-Afrikaners, en veral die Afrikaners na aanleiding van AfriSol se veldtog in Amerika om sake soos plaasmoorde en vergrype van die ANC-regering aan die groot klok te hang.
Veral die rol van president Donald Trump het die manne, en sommige vroue, warm onder die kraag gelaat. So ’n onderwerp kan nie sinvol in ’n rubriek soos hierdie bespreek word nie, behalwe om op te merk die manier waarop die twee kante mekaar op die sosiale media skel, vloek en slegsê, is geen advertensie vir ons mense nie.
Inteendeel. Oom Pottie, wat amper negentig jaar oud is, sê hy het baie politieke woelinge in sy lewe beleef, maar nog nooit was Afrikaner-groepe so hatig op mekaar soos nou nie. Dis jammer, want albei se gemeenskaplike politieke ‘vyand’ is die ANC, en hulle baklei onder mekaar oor onder meer strategie.
Kom ons praat liewer rugby. Ongelukkig ook oor ‘n minder aangename saak. Die sukkelende Sharks, ons gunsteling-rugbyspan met al die Springbokke, wat nie presteer nie. Die jongste pyn is die gevolge van Eben Etsebeth se onbesonne daad aan die einde van die Bokke se skitter-oorwinning oor Wallis, wat finaal getoon het hulle het op die oomblik nie hul gelyke nie, en is waarskynlik die beste span in ons geskiedenis. Mense vermoed daar was provokasie, maar wat hy gedoen het was onvergeeflik.
Toe hierdie rubriek geskryf is, was die aanduidings dat hy baie swaar gestraf sou word, nie met groot gevolge vir die Bokspan nie, maar wel vir die Sharks. Hy kry vir seker ’n reuse salaris by die Sharks, maar hy speel bitter min vir hulle. Van nou af waarskynlik vir baie lank glad nie. Wat die afrigter, John Plumtree se probleme vererger na verlede week se nederlaag met 44-17 teen Connacht. Plumtree is reeds ’n ‘dead man walking’ omdat hy inderwaarheid afgedank is maar tot die einde van die seisoen sal aanbly. Hy is in die openbaar verneder, hy en sy mede-afrigters se toekoms is duister, en hulle is almal waarskynlik besig om elders werk te soek.
Wat die base van die Sharks besiel het om Plumtree so te behandel, weet nugter. Pottie sê dit maak vir hom sin, want hulle het in verlede verskeie sulke strategiese foute gemaak. Soos bv. met die aanstelling van John Smit in 2013 en hy nie geweet het waarvoor hy hom inlaat nie. Die ander onverstaanbare stap is die kies van die 36-jarige George Whitehead op losskakel pleks van bv. Jordan Hendrickse met die oog op die toekoms. Een van baie soortgelyke besluite.
Ons loopstorie kom van Jan de Lange van Clarens: Klein Koos oefen vioolspeel in die sitkamer onderwyl pa Koos probeer om ’n uiltjie te knip. Die gesinshond Vlooi lê op ’n matjie voor pa Koos se bed, maar elke keer wanneer Klein Koos ’n ekstra hoë noot uit die viool wring, vlieg die hond op en tjank iets allerverskrikliks. Skielik knak pa Koos en vlieg op en skreeu: ‘Genugtig Koosman, kan jy dan nie iets speel wat Vlooi ken nie?’
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
