Johan Pretorius: Herinneringe aan ’n politieke enigma, Jaap Marais
Ek onthou hoe driftig en emosioneel hy op vergaderings met koerant-uitknipsels en ander notas in sy een hand en met die ander hand se vinger in die lug kon praat.
Facebook het my herinner aan ’n berig wat ek vyf jaar gelede geskryf het oor my ervarings as politieke korrespondent van die SAUK met leiers van die verskillende opposisiepartye, wat nie baie lief vir die korporasie was nie. Ten spyte van hierdie renons, weens verstaanbare politieke redes, het die SAUK-redaksie in die Persgalery baie goeie persoonlike verhoudings met individue in die opposisiepartye gehad, veral met die leiers en senior lede, onder wie Colin Eglin, Vause Raw, Dr Van Zyl Slabbert, Dr Pieter Mulder, Amichand Rajbansi, Alan Hendrickse, Dr Mangosuthu Buthelezi, en selfs Eugene Terre’Blanche van die AWB. Die enigste persoonlike uitsondering was Dr Andries Treurnicht. Hy en ek het gladnie van mekaar gehou nie, maar dis ’n storie vir ’n ander dag.
’n Partyleier met wie ek minder gereeld op persoonlike vlak te doen gekry het, was Jaap Marais van die HNP. Wanneer dit egter wel gebeur het, was dit gemoedelik, vriendelik en sonder venyn, hoewel ons as individue oor baie dinge radikaal verskil het, om dit sagkens te stel. Op sy vergaderings, wanneer sy volgelinge SAUK-mense leed wou aandoen, het hy ons beskerm. Ek onthou hoe driftig en emosioneel hy op vergaderings met koerant-uitknipsels en ander notas in sy een hand en met die ander hand se vinger in die lug kon praat. Een aand het ek gedink hy kry ’n oorval toe ’n lid van die gehoor, waarskynlik ’n NP-man, op ’n vergadering voor die verhoog verby beweeg en skielik die uitknipsels uit sy hand gegryp het.
In 1992 het drie van ons SAUK-joernaliste, Christo Kritzinger, André le Roux en ekself, Oom Jaap, soos ons hom genoem het, genooi om saam met ons by ’n bekende Franse restaurant in Pretoria te gaan eet. Ons het geweet hy was ’n fynproewer op kulinêre gebied en ’n wynkenner van formaat. Hy het die uitnodiging aanvaar, en aangebied om wyn saam te bring. Oom Jaap het by die sjiek, nouvelle cuisine-Franse restaurant in Pretoria, opgedaag met vier bottels wyn uit sy eie versameling: Cabernet Sauvignon, ses jaar in die bottel, ’n droeë wit-, semi-soet wit-, en ’n bottel dessertwyn. Deur die loop van die aand het hy sy aanbevelings gedoen oor watter disse die beste by sy wyne sou pas. Dit was gou duidelik dat hy die restaurant en die verskillende items op die spyskaart goed geken het, en die kelners vir hom. Ons het rêrig lekker geeët. Die kos was puik.
Die gesprekke het oor verskillende onderwerpe gehandel, en hy het ons beïndruk met sy wye kennis van ’n magdom onderwerpe, sy passie vir die Suid-Afrikaanse politiek, en veral die geskiedenis van die Afrikaner. Ons het hom uitgevra oor sy liefde vir die letterkunde. Hy was ’n kenner van nie net NP van Wyk Louw en ander Afrikaanse letterkundige reuse nie nie, maar ook van bekende Nederlandse, Vlaamse en Engelse digters, veral John Keats. Hy het aan ons bevestig dat hy Shakespeare se Julius Caesar in Afrikaans vertaal het. Hy het ook vertel van sy passie vir grasparakiete, oftewel budgies.

Oom Jaap is in 1958 tot Volksraadslid verkies. In 1969 saam met Dr Albert Hertzog van die Nasionale Party af weggebreek basies weens die NP se veranderde sportbeleid, en omdat hy en sy makkers gemeen het die NP was besig om die blankes, en in die besonder die Afrikaners, uit te verkoop. Hy het vertel van sy bittere teleurstelling dat dr. Andries Treurnicht, die latere leier van die Konserwatiewe Party, hulle op die laaste oomblik versaak en in die NP agtergebly het. Hy het steeds geglo die beleid van dr. Verwoerd was die enigste oplossing vir Suid-Afrika. Ons drie joernaliste was van mening dat dit Suid-Afrika net verder die afgrond in sou laat beland. Hy het ons bedaard en gedetailleerd van die teendeel probeer oortuig, met goedgemotiveerde argumente gegrond op ’n uitgebreide kennis van die breë politieke spektrum. Dit was ’n baie insiggewende gesprek.
Ons het radikaal van hom verskil oor sy standpunt dat Verwoerd as gevolg van ’n sameswering deur Suid-Afrikaanse, Amerikaanse en Kommunistiese organisasies vermoor is. In sy boek, waarvan hy my die aand ’n getekende kopie gegee het, sê hy onder meer invloede binne die Nasionale Party ‘het Verwoerd laat vermoor voordat sy beleid vermoor is’. ‘Hulle wou ook Verwoerd se nagedagtenis van sentiment en emosies stroop’.
Hy het ook geglo Dimitri Tsafendas, volgens hom ’n deurtrapte kommunis, is opgelei om die moord te pleeg, dat hy voor die moord verklaar het hy gaan Verwoerd ‘kry’, dat hy gereeld ’n Griekse skip in die Kaapstadse hawe besoek het vir instruksies, en dat die Amerikaanse CIA ’n rol gespeel het. Ten spyte daarvan dat ‘n kommissie van ondersoek geen tekens kon vind dat hierdie bewerings waar is, en dat Tsafendas geestelik versteurd en nie toerekeningsvatbaar was nie, het Oom Jaap volgehou hy weet wat werklik gebeur het. Ná die aangename aand het ons lank daarna nog onder mekaar gewonder hoe ’n ingeligte, polities-bewuste en gekultiveerde mens soos Oom Jaap sulke menings kon huldig, en so vas oortuig van sy saak was.
Ewenwel, Oom Jaap is in 2000 in die ouderdom van 77 jaar oorlede. ’n Ware enigma in die Suid-Afrikaanse politiek, maar iemand wat ons joernaliste se lewens verryk het met ’n ete en ’n beskaafde, stimulerende gesprek in ’n Franse restaurant in Pretoria. Amper 35 jaar gelede.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
