Wouter se Watergat: Verloopte Indiërs vermom as Kanadese
Ek moet sê, dit was interessant om te sien hoe die Proteas wen teen verloopte Indiërs en Pakistani’s vermom is as Kanadese.
Vroulief en ek het ’n paar dae lank by ons kinders in Johannesburg gaan kuier, en het die Watergat in die bekwame hande van Oom Pottie gelaat. Met ons terugkeer het hy nie veel gehad om te rapporteer nie, behalwe die stormweer en voortgesette klagtes oor onderbrekings in watervoorsiening. Hy sê van ons besoekers, veral dié van Hibberdene, praat nie meer van onderbrekings nie, want daar is niks om te onderbreek nie. Toe hierdie rubriek geskryf is, was groot dele van hierdie dorp reeds 25 dae sonder water. Moet daar nie van buite af ingegryp word nie?
Ewenwel, ons was verlede naweek in Johannesburg toe die Sesnasies-rugby begin het, en was baie beïndruk met die Franse wat Ierland goed afgeransel het. Dit was ook goed om te sien hoe goed die Italianers deesdae speel. Skotland is nie die sterkste span in die kompetisie nie, maar dit was ’n goeie oorwinning vir die Italianers. Lyk my Skotland sit vanjaar met die houtlepel. Ons sal aanstaande week weer rugby gesels, ook oor die T20-wêreldkampioenskap in Indië. Ek moet sê, dit was interessant om te sien hoe die Proteas wen teen verloopte Indiërs en Pakistani’s vermom is as Kanadese.
Ons loopstorie is iets anders as gewoonlik, en is aan Pottie oorgedra deur Jenny de Goede wat dit in ’n restaurant in Melville, Johannesburg ervaar het. Sy en haar man was reeds ’n rukkie daar toe ’n seun en sy erg bejaarde pa by ’n sytafel teen die muur gaan gaan sit. Die pa was kwaai verswak, bril half skeef op die gesig, en terwyl hy sukkel-sukkel geëet het, soms met die hulp van sy seun, het van die kos op sy hemp en broek en selfs die grond geval. Die seun het dit bloot opgetel asof niks gebeur het nie.
Na ’n ruk het van die jonger mense in die restaurant ongemaklik begin word, onder mekaar gepraat, en Jenny het gehoor van hulle kon nie verstaan hoe ’n seun sy bejaarde pa na ’n restaurant soos daardie kon neem nie. Die seun was deurentyd heel kalm, het mooi met sy pa gepraat, en hy het sy seun ewe vriendelik en ooglopend verstaanbaar geantwoord. Hulle het in ’n stadium baie lekker gesels, en die seun het hom nie aan die ander eters gesteur nie. Pa en seun het net een dis bestel en was redelik gou klaar, waarna die seun sy pa stadig na die toilet-waskamer begelei het.
Toe hulle terugkom, was dit duidelik dat die seun die stukkies kos op sy pa se klere verwyder en die vlekke afgewas het. Alles was mooi skoon. Die ou man se hare was netjies gekam en sy bril weer mooi stewig op sy gesig. Die seun het die rekening betaal, en op pad uitgang toe het ’n bejaarde man onder die restaurantgangers die seun luid gevra: “Het julle nie iets hier agtergelaat nie?”
“Nee, meneer, ek het nie,” het die seun geantwoord. “Ek verskil van jou,” het die bejaarde man geantwoord.
“Wat julle agtergelaat het is ’n les vir elke seun en hoop vir elke pa!”
Daar was daarna ’n geruime tyd lank redelike stilte in die eetplek.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
