Onthou God se mag
In die Bybel word water ook geassosieer met magte en kragte wat God se skepping teenstaan.
Onthou om te onthou om te onthou, is die woorde van ’n ou lied. Ons vergeet maklik, ons vergeet ons geskiedenis, die goeie tye in die lewe en onthou dikwels net die swaar tye. Daar is wel feeste, soos Geloftefees, of Paasfees of Kersfees wat ons herinner aan groot gebeure uit die verlede, sodat ons nie vergeet nie. Josua 4 is ’n oproep aan die Here se mense, aan Sy volk om die goeie tye te onthou. Die Here het voor Sy mense uitgegaan en hulle deur ’n groot hindernis gelei, die Jordaan rivier, destyds, ’n magtige rivier en invloed.
In die Bybel word water ook geassosieer met magte en kragte wat God se skepping teenstaan. Die waters het die volk nie vernietig nie, maar God se teenwoordigheid en nabyheid het hulle deurgedra. So ’n gebeurtenis mag nie vergeet word nie. Daarom beveel die Here dat Israel ’n gedenksteen vir die wonder by die Jordaan oprig. By Gilgal, die eerste plek waar hulle in die beloofde land sou oornag, moes hulle die klippe gaan opstapel. Dit moes dien as ’n teken vir hulle kinders van die Here se mag. Dit is ’n blywende herinnering vir die nageslag.
Gelowiges moet herinneringstekens hê om hulle aan God se mag te herinner. Soos vir Israel en sy nageslag troos dit ons in moeilike omstandighede. Dit gee hoop dat die Here die gevaar kan afweer. So is die doop en nagmaal tekens wat op Sy mag wys. Die Nagmaal herinner ons dat ons Paaslam Jesus Christus geslag is om ons te verlos, maar dat Jesus ook in die hier en nou ons dra en verdra deur Sy liefde.
Vir ’n gelowige is dit belangrik om oor God en sy dade met die kinders, familie of ander oor God se dade in die verlede te praat. Dit word jou belydenis oor God. Wanneer jy jou geloof so bely, is jy besig om die Here se mag te erken. Ons rig nie meer klipstapels op nie, want op Golgota is ? kruis opgerig as permanente herinnering dat God vir ons is wat glo en nie teen ons nie. Onthou dit as die Jordaan bruis en die lewenstorms dreig om jou te vernietig.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
