Wouter se Watergat: ‘n Ernstige waterkrisis op hande?
Die watervoorsiening in die gebied wat deur hierdie stelsel bedien word, word dus van 18:00 saans tot 05:00 soggens afgesny in die pypleidings van 375mm en 300mm wat Margate, Manaba en Uvongo van water voorsien, asook die Gamalakhe- en Marburg- in- en uitlate.
Die groot besprekingspunt sedert Maandag was die kennisgewing van die Ugu-distrikmunisipaliteit dat die Sint Helen Rock-dam, wat die Bobhoyi-waterstelsel voed, slegs 50% vol is weens aanhoudende onttrekking. Die munisipaliteit sê daarom word waterbesparingsmaatreëls ingestel om die oorblywende waterbronne te beskerm. Die doel is om minstens 20 megaliter per dag te bespaar.
Die watervoorsiening in die gebied wat deur hierdie stelsel bedien word, word dus van 18:00 saans tot 05:00 soggens afgesny in die pypleidings van 375mm en 300mm wat Margate, Manaba en Uvongo van water voorsien, asook die Gamalakhe- en Marburg- in- en uitlate. Die verklaring lui voorts inwoners sal moontlik lae waterdruk in die oggende ervaar, met die druk wat stelselmatig verbeter soos die reservoirs se kapasiteit toeneem. Die pompe van Murchison/Bobhoyi en Nsimbini sal deurnag funksioneer om die voorraad te herstel.
Ek het besluit om die aankondiging in hierdie rubriek te noem ingeval daar lesers is wat nog nie daarvan bewus is nie. Die omstandighede kon ook verander het met nuwe aankondigings nadat hierdie geskryf is. Ons hier in die Watergat sug maar net, want met water wat van ses-uur afgesny word, word die bedrywighede van ’n kuierplek mateloos negatief beïnvloed. Nietemin, kom ons hoop vir die beste. ’n Groot negatiewe faktor, wat die situasie vererger, bly die water wat vermors word weens die swak toestand van die infrastruktuur. Kom ons hoop ons kry binnekort baie goeie reën om die situasie te verbeter. Die nare realiteit is egter watervoorsiening in groot dele van die land beleef ’n krisis. Ons sal aanstaande week weer sport gesels. Veral oor die Sesnasies-rugby en die T20-krieket-wêreldbeker-toernooi.
Ons loopstorie is nie nuut nie, maar dit bly snaaks. Manie en San Potgieter van Bloemfontein het ons verseker dit het iewers in die verlede werklik by Grey-kollege gebeur. Op ’n Maandagoggend het die hele skool soos gewoonlik in die saal vergader. Die skoolhoof het sy gebruiklike storie vertel, die eerste rugbyspan geprys, die skoolkomitee hartlik bedank ens. Op die verhoog staan daar twee kartondose. In hierdie kartondose is daar Bybels wat deur die Gideon-organisasie (die ouens wat Bybels in hotelle, ens. plaas) aan die skool geskenk is.
Die idee is om vir alle kinders wat nie Bybels het nie, ’n Bybeltjie te gee. Omdat hierdie nogal ’n noemenswaardige gebaar was, het twee van die Gideon-mense na die skool toe gekom om die Bybels te oorhandig. Die twee sit so half eenkant – weg van die onderwysers af. Toe die hoof klaar is met sy aankondigings, kyk hy so op na die kinders, en sonder om ‘n ‘beat’ te mis, swaai hy sy hand na die twee kartondose langs die Gideon-mense se kant toe en verklaar: “Julle wonder seker wat hierdie twee dose op die verhoog maak?”
Nodeloos om te sê, die volgende oomblik het chaos uitgebars. Die onderwysers rapporteer dat dit onmoontlik was om enigiets die moeite werd vir die res van die dag in die kinders se koppe te kry, aangesien hulle telkens uitgebars het van die lag. Die arme twee Gideons het nie ‘n woord kon inkry nie en die twee dose met Bybels in is onuitgedeel na die hoof se kantoor verskuif.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
