South Coast Fever

Stiltetyd: God trek ’n streep deur die verlede

Enige tyd, enige oomblik kan iets beslissend gebeur wat jou lewe skielik verander en in ’n nuwe rigting stuur.

Daar is sekere definiërende oomblikke in ’n mens se lewe wat jy nooit sal vergeet nie. Dink maar aan nog voorbeelde soos ’n troudag, ’n kind se geboorte, ’n ernstige of lewensbedreigende siekte, ’n onverwagte ontmoeting. Enige tyd, enige oomblik kan iets beslissend gebeur wat jou lewe skielik verander en in ’n nuwe rigting stuur. Ná die swaarkry in Egipte en die woestyn, is Israel uiteindelik in die mooi land wat die Here met ’n eed aan hulle vaders beloof het. Op hierdie nuwe pad in hulle lewens doen God drie dinge.

God trek ’n streep deur die verlede. Deur die besnydenis-seremonie herverbind hulle hulself aan die Here, ontdek hulle weer hul identiteit as die Here se eiendom. Vers 9 van Josua 5 sê dat die Here deur die besnydenis die smaad en skande van die verlede van hulle weggeneem het, letterlik ‘weggerol’ het. Hulle skuld en sonde is vergewe. Die les is: moenie vassteek by gister nie. Vertrou die Here met jou toekoms.

Ná die besnydenis vier Israel die Pasga in die vlaktes van Gilgal. Hulle word herinner hoe God hulle hulle bevry het uit Egipte. Die Pasga is ’n viering van die eerste Pasga toe daardie bloed aan die deurkosyne hulle behoud was. Vir ons as Christene is Christus se bloed aan die deurkosyne van ons harte dit wat ons deurdra. Moet nie vergeet wie jou tot hiertoe gedra het nie, wie jou Redder en Verlosser is nie. Onthou gister se voorsiening. Dan sal jy wanneer jy met die harde realiteite van die lewe te doen kry, weet waarheen om terug te val.

Die derde belangrike episode in ons teks is Josua se ontmoeting met die man met die swaard (v 13-15). Nog ‘n beslissende oomblik. Die Engel van die Here is ’n Godsverskyning. God verskyn op die vooraand van die inname van Jerigo aan Josua om hom te bemoedig en te verseker dat Israel nie alleen is nie. God kies egter nie kant nie, Hy eis oorgawe. Die volk moes leer om God te volg as die leidsman en Voleinder van hulle geloof. Moenie vassteek by die verlede nie, maar onthou wie gister vir jou deurgedra het. Hy sal jou dra die toekoms.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button