Stiltetyd: Soek God se plan en wil
Die Bybel vertel vir ons in Josua 6 van Israel se verowering en besetting van die Beloofde Land.

Lukas Maree het die stad Jerigo bekend gemaak met die lied Jerigo. “Jerigo se mure was van klip gemaak. Jerigo se mure was bewapen teen die sterkste mag maar kyk wat het musiek daarmee gemaak.” (Lukas Maree: Jerigo). Die Bybel vertel vir ons in Josua 6 van Israel se verowering en besetting van die Beloofde Land. Die stad was verskans en bykans oninneembaar. Die stad moes egter ingeneem word om die res van die land te beset.
Die Here sê egter vir Josua dat Hy die stad, sy mense en soldate in die hande van Israel sal oorgee. Mens verwag ’n uitgewerkte strategie en plan. God sê egter dat Israel ses dae om die stad moet loop met ramshorings en die sewende dag moet die priesters op die ramshoring blaas. Die verbondsark van die Here was in hulle midde. Op die sewende dag was daar ’n groot geskree en die blaas van ramshorings en die stadsmure het ineengestort en die stad is ingeneem.
Dit alles skets ’n vreemde situasie maar beklemtoon God se wonderbare ingryping in die geskiedenis. Die verhaal leer ons heelwat oor God en geloof en gehoorsaamheid aan God se opdragte. Dit was ’n situasie wat menslik onmoontlik gelyk het, maar Israel moes op God steun vir die oorwinning. Hulle moes luister na God se Woord selfs toe alles nie sin maak nie. Uiteindelik sou dit alle menslike roem uitsluit en die eer aan God alleen bring.
Geloof is om God te vertrou selfs al sou jy bitter graag op menslike strategieë wil terugval. In ons land en eie lewens, is daar vele en byna onoorkomelike uitdagings. Kinders van die Here kom voor mure te staan wat te hoog is om te oorkom. By Jerigo het mure geval en is die vyand oorwin. By Golgota is die mure van sonde en die dood afgebreek. Christus die oorwinnaar het deur Sy kruis en opstanding die laaste vyand, die dood oorwin. Waar in jou lewe moes jy al God vertrou al het dinge nie vir jou sin gemaak nie? Hebreërs 11:30 leer ons dat Jerigo se mure deur geloof geval het. Sal jy God vandag vertrou en Sy pad en wil vir jou lewe soek?
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
