Wouter se Watergat: Die Lions is ‘tops’, die Sharks ‘flops’
‘Op my ouderdom besef ek elke dag is ’n geskenk, en elke nuwe pyn laat my wonder of dit die begin is van die proses wat my gaan doodmaak.’
Sjoe, maar die tyd vlieg. Die jaar het skaars begin en hier is ons aan die einde van April. Dis erg. Oom Pottie, wat in sy middel-tagtigs is, het opgemerk hy was nog nooit in sy lewe so bang vir die spoed waarmee die tyd vir hom verbygaan nie. ‘Op my ouderdom besef ek elke dag is ’n geskenk, en elke nuwe pyn laat my wonder of dit die begin is van die proses wat my gaan doodmaak.’ Pottie het sy skete. Maar is verbasend gesond vir sy ouderdom. Seker daarom waarom hy wonder wat nuwe pyne beteken.
Ongelukkig is die swaarmoedigheid van ons gesprek Saterdag vererger deur die soveelste onnodige nederlaag van die Sharks. Hul kanse om die uitspeelwedstryde van die VRK te haal het ’n groot knou gekry, en hulle is nou elfde op die puntelys. JP Pietersen was in die kol toe hy twee insidente bevraagteken het. Ethan Hooker se fantastiese drie is totaal bederf deur die vleuel Luke Morgan wat doelbewus op hom geval het toe hy druk. Hooker se skouer is so ernstig beseer hy gaan drie tot ses maande buite aksie wees. Waarom is daar nie teen Morgan opgetree nie? Hooker was ’n groot faktor op die veld en sy afwesigheid het ’n leemte gelaat.
Die tweede saak was die ‘besering’ wat twee van die Ospreys se stutte opgedoen het, een nadat Vincent Koch en Ox Nche opgestuur is en hul teenstanders verniel het. Dit het uitgeloop op nie-mededingende skrums wat die Sharks se angel getrek het. Ek sal my laaste rand daarop verwed dat die Ospreys met ’n slim stukkie bedenklike strategie weggekom het. Maar nietemin, die Sharks stel steeds teleur. Die Stormers het ook weer verloor, nugter weet waarom, Die Bulls het ’n goeie oorwinning behaal, maar die wedstryd van die naweek was dié tussen die Lions en die topspan in die liga, die Glasgow Warriors.
Dit was ’n groot plesier om die Johannesburgers dop te hou. Hulle het die die oorwinning van 52-14 so maklik laat lyk. Cash van Rooyen en sy mede-afrigters het iets baie vinnig reggekry, want die konsekwentheid is nou daar, baie minder foute, en skitterende hanteer- en lakwerk. Oom Pottie was in ekstase, en het skoon van sy bekommernisse vergeet. Franco Smith, die afrigter van die Warriors, was vol lof vir die Lions, en het verklaar hulle het verskeie spelers van Springbokgehalte wat sy eie spelers heeltemal oorskadu het. Hy het nietemin bygevoeg hy het die die nodige diepte nie, en van sy spelers, verskeie van hulle lede van die Skotse nasionale span, dra ’n swaar las weens die pas-afgelope Sesnasies reeks.
Ons loopstorie van die week kom van Piet de Lange van Umtentweni.
Die tannie en haar suster se tienjarige seun sit in die sitkamer en gesels. ‘Hoekom het tannie nooit getrou nie?’ vra die seun.
Die tannie dink so ’n bietjie, glimlag vir die seun, en sê: ‘Ag my kind, ek het nie ’n man nodig nie. Ek het ’n papegaai, ’n hond en ’n kat. Saam is hulle nes ’n man. Die papegaai vloek, die hond p**p en die kat loop saans rond.’
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
