South Coast Fever

Johan Pretorius: Die ongelooflike skoolkoste van ‘n kind

“’n Week na die skole open, kry ek ’n vriendin vir koffie. Haar gesig lyk of Januarie al drie jaar lank is.

In ’n onlangse gesprek met ons seun en skoondogter oor wat dit hulle kos om drie kinders op skool te kan hou, het ek besef hoeveel rande dit jou deesdae kos om ’n kind ’n opvoeding te gee. Dis skrikwekkend. Dit het my herinner aan ’n rubriek wat Nicolette Kritzinger vroeër vanjaar vir Afrikaans.com geskryf het. Ek het dit opgespoor, en deel dit, effens verkort, met die SC Fever se lesers omdat dit so goed geskryf is:

“’n Week na die skole open, kry ek ’n vriendin vir koffie. Haar gesig lyk of Januarie al drie jaar lank is. Ek weet klein Frikkie is ’n paar dae terug graad twee toe, maar ek het gedink sy sou verheug wees. “Jy sal nie glo hoeveel goed ons vir Frikkie vir skool moes koop nie. Kyk hier!” Sy pluk twee A4-bladsye uit. Ek sou nou nie vir Frikkie uitskel as ’n akademiese reus nie. Iets in my dink nie hy gaan al hierdie goed nodig kry nie. Hoe verder ek lees, hoe meer geskok is ek. Sy kry in Januarie hierdie bederfie: R2 000 se skryfbehoeftes voor haar kind sy boude op ’n skoolbank mag sit.

Ek nader drie ma’s vir inligting oor hul kinders se skoolbehoeftelysies. Skielik word ek op geheime WhatsApp-groepies gevoeg waar ma’s onder skuilname gal braak oor die items op hul skoolkinders se lysies. Ek ontmoet vreemdelinge op straathoeke. Ek word na ondergrondse vergaderings genooi en ontvang anonieme oproepe. Almal se opdrag is dieselfde: Ek sal vir jou my kind se lysie gee; moet net nie my naam noem nie.

’n Skoolbaadjie (moet te alle tye in die skoolgebou saam met jou ‘pull-over’ gedra word) – sodat jou kind in Februarie, in die warmste maand van die jaar, kan sweet soos ’n moordverdagte voor ’n vonnisoplegging. Ek onthou die skoolklere wat my ouers altyd vir my gekoop het. Tien mates te groot. Jy het altyd eers die skoolrok gesien en dan die kind. My vriende het in graad 7 vir die eerste keer my gesig en my knieë gewaar. En die duur items was altyd die grootste. Os du Randt sou gemaklik in my graad 8-skoolbaadjie kon pas. ’n Volledige meetkundestel. Frikkie kan nog nie eers tot drie tel nie, maar hy moet ’n wiskundestel op sy eerste dag van skool saamneem.

Drie liniale. Almal 30 cm. In my totale bestaan van 31 jaar kon ek dit nog nie regkry om drie liniale op te gebruik nie. Vier bokse ‘tissues’ en twaalf toiletrolle. Om wat mee te maak? My trane af te vee nadat ek die rekening vir alles op hierdie lys betaal het? Agt buisies Pritt. Op een skool se lysie word daar aangedui dat ‘space cases’ verbied word. Leerders moet ’n pennesakkie met die skool se wapen op bestel en elke kind se naam moet in ‘royal gold’ op die sakkie geborduur word asof hulle ’n afstammeling van Prins Charles homself is.

By party skole moet alle handboeke nuut gekoop word. Onthou jy nog toe ons aan die begin van die jaar al ons boeke by die skool gaan afhaal het? Aan die einde van die jaar neem jy daardie selfde hopie boeke terug. As jy op een of meer van die bladsye gekwyl het, of jy het jou rooi koeldrank daarop gemors, dan moes jou ouers dit betaal. Ek onthou nog hoe ons kon lag vir die gekrabbel in die handboeke dat mnr. Gouws en juffrou Swanepoel ‘vibe’ en dat die snoepietannie eintlik ’n man is.

Vier oranje regterhandskêrtjies. Wie het vier regterhande? Vier uitveërs. En moenie dink jy gaan deurglip met ’n goedkoper Pep-nommertjie nie. En dan … my g*t se deksel: Drie pakke lekkers. Vir wat? Sodat meneer Van der Merwe by die huis vir sy vrou kan sê hy is op ’n ‘diet’ terwyl hy skelm pouses Quality Street-sjokolades uit sy onderste laai grou? Dan die uitstappies, die hokkiestokke, die lyfroom vir juffrou Potgieter se verjaarsdag, die fondsinsameling vir die heining om die tennisbane, ’n R20 sodat jou kind sy gewone klere skool toe kan dra, ’n kostuum vir Frikkie se debuut as ’n boom in die jaarlikse skoolkonsert. Of jy is een van die uitverkorenes wat per ongeluk ’n Celine Dion gebaar het en nou by elke sangkompetisie in die land moet wees? Of ’n Eben Etzebeth wat elke twee weke nuwe toks nodig het?

En wat kry jy as ouer daarvoor? ’n Medalje? Nee. Kom ek sê jou wat jy kry. ’n Vieslike maagvirus twee dae nadat die skool begin het omdat ’n maatjie pouse op Frikkie genies het. Maar dan wonder ek … gaan daar nie ’n dag kom wat jy terugkyk en daardie klein lyfie mis wat opgewonde na jou toe hardloop met ’n vetkryt-meesterstuk wat hulle vandag by die skool geteken het nie? Die blink ogies wat jou in detail vertel van hul skooluitstappie na die akwarium, of die kyk in hulle oë as hulle omdraai om seker te maak jy het die drie gesien. Ek dink op daardie oomblik gaan jy wonder hoekom ’n skryfbehoeftelysie of ’n skooluitstappie op ’n tyd so groot gevoel het. Of dalk nie. Dalk gaan jy dan juis bly wees dat ’n PNA-lysie nooit weer sy weg na jou toe vind nie. En dit, liewe ouer, is ook oukei.”

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button