Oribi Voortrekkers en NSRI span saam vir veiligheid
Die naweek was 'n groot sukses.
Oribi Voortrekker Kommando het ’n fondsinsamelingsgeleentheid gehad by die Orca’s Markdag in Sunwich Port op Saterdag, April 11.
Dit was ’n pragtige dag met uitstekende weer, en besoekers kon selfs deelneem aan ’n sandkasteelboukompetisie wat vir groot vermaak gesorg het.
Op Sondag, April 12, het die Kommando ’n insiggewende inligtingsessie gereël in samewerking met die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) by Shelly Beach (Stasie 20).

Tydens die sessie het lede van die NSRI waardevolle kennis gedeel oor hul daaglikse werksaamhede en die belangrike rol wat hulle speel in seeveiligheid en reddingsoperasies langs die kus.
Die Voortrekkers het die geleentheid gehad om eerstehands kennis te maak met die toerusting en prosesse wat gebruik word tydens reddingsaksies.
Daar is onder meer gefokus op die beskermende toerusting wat reddingspersoneel dra, die skedules waarvolgens hulle funksioneer, asook die verskillende bote wat gebruik word in noodgevalle.
Verder is daar ook demonstrasies gegee oor die gebruik van fakkels (flares), wat ’n noodsaaklike hulpmiddel is tydens reddingsoperasies op see.

Saam met die Voortrekkers het die Hibuscus Coast Amateur Radio Klub, ook deelgeneem en hul radiotegnieke aan die groep gedemonstreer.
Hierdie aanbieding het waardevolle insig gebied in kommunikasie tydens noodgevalle en hoe belangrik betroubare radioverbindings is.
Kultuurorganisasies, ATKV Jeug en Solidariteit Helpende Hand het ook die sessie bygewoon.
Oribi Voortrekker Kommando het terselfdertyd ’n fondsinsamelingsdag aangebied waar boereworsrolle verkoop is om fondse vir die kommando in te samel.
Die sessie was nie net leersaam nie, maar het ook ’n groter waardering geskep vir die toewyding en opoffering van die betrokke organisasies en vrywilligers.
Oribi Voortrekker Kommando spreek hul opregte dank uit aan almal wat betrokke was en bygedra het tot die sukses van die dag.
Die naweek was ‘n groot sukses.
Vir enige navrae oor Voortrekkers kontak Kommando Leier Morné op 076 0443358 of Oribi@voortrekkers.co.za.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
