Huis-inbrake, -diefstalle SA se top-misdaad
Daar was die afgelope tyd verskeie gevalle van huisbrake of pogings tot huisbrake in ons omgewing, en ’n berig in Businesstech deur Malcolm Libera het derhalwe my aandag getrek.
Die meeste huishoudings in Suid-Afrika loop die een of ander tyd in ’n mindere of meerdere mate deur onder die aktiwiteite van diewe en rowers. Vriende van ons was verlede week die slagoffers van inbrekers wat hul motorhuis se deur oopgebreek het, en alles van waarde daarbinne, onder meer duur elektriese gereedskap, gesteel het onderwyl die gesin die aand ’n verjaardag in ’n restaurant gevier het. Daar was die afgelope tyd verskeie gevalle van huisbrake of pogings tot huisbrake in ons omgewing, en ’n berig in Businesstech deur Malcolm Libera het derhalwe my aandag getrek.
Libera se onderwerp was die gewildste items vir inbrekers en rowers in Suid-Afrika deesdae, en die inligting wat hy verskaf het was nie verbasend nie, gegewe die huidige relevante omstandighede in die land. Hy haal die bestuurder van ‘n bekende sekuriteitsmaatskappy aan wat in ’n radio-onderhoud verklaar het sonpanele en gasbottels is bo-aan die itemlys van misdadigers. Albei hierdie items is waardevol en maklik bereikbaar, en diewe en inbrekers is deurentyd op die uitkyk vir persele waar hulle maklik toegang tot gasbottels en sonpanele het. Ander gewilde teikens is sonkragstelsels se lithium-ion-batterye omdat hulle so duur is, en volgens kenners in die sekuriteitsbedryf is daar georganiseerde sindikate wat huishoudelike sonkragstelsels teiken. Veral eiendomme in meer afgeleë gebiede is veral in hul visiere want dis baie moeiliker om die sonkragstelsels te beveilig.
Tesame met die kriminele se voorkeur vir sonkragstelsels, is hulle deurentyd op die uitkyk vir ander items soos gasbottels. ‘n Woordvoerder van ’n ander sekuriteitsmaatskappy sê inbrake, diefstalle en vandalisme kom deurentyd voor by sowel huise as sake-ondernemings in Suid-Afrika. Gasbottels en buitebeligting, insluitend skynligte en son-aangedrewe buiteligte is gewilde teikens omdat hulle baie maklik verwyder en weggedra kan word. Die gasbottels kan maklik verkoop of vir onwettige bedrywighede gebruik word. Restaurante, huise met gassilinders buite die huis en klein sake-ondernemings is veral kwesbaar.
Nog ’n sekuriteitsmaatskappy wys daarop die misdadigers gebruik van die gasbottels self vir huishoudelike doeleindes soos koskook en verwarming, veral in die winterseisoen. Die gasbottels word ook op die swartmark teen lae pryse verkoop aan mense wat dit nie kan beskostig om hulle by kleinhandelverskaffers te koop nie. Een van die redes waarom gasbottel-‘hokke’ so kwesbaar is, is hul ligging, gewoonlik buite sig van die huis of onderneming se gebou, maak dit makliker vir misdadigers om die bergplek oop te breek, die bottels te laai en ongesiens weg te neem.
Libera van Businesstech wys daarop die land se duur elektrisiteit bevorder ’n onwettige mark, want baie mense gebruik gas om hul energiekoste te sny. Easigas het verklaar met die aankomende winter en die onvermydelike toename in die koste van energie, koop alhoemeer huishoudings gas, en is daar groot geleenthede vir onwettige rolspelers om die vloeibare petroleumgas-bedryf uit te buit. Hulle herverkoop gesteelde of gemodifiseerde silinders, vul die silinders nie korrek nie, peuter met die seëls, of kontamineer die inhoud. In praktiese terme, beteken dit dat mense volprys vir ’n halfgevulde silinder betaal, hul toestelle beskadig, of selfs onwetend versekerings-uitbetalings kelder. Easigas wys daarop iemand wat nie ’n kenner is nie, sal nie weet wanneer gevulde silinders vals gasseëls, hul veiligheidsleeftyd verstryk het of tekens toon dat daar met die silinder gepeuter is nie.
Sekuriteitsmaatskappye waarsku die winter bring nie net korter dae en kouer temperature nie, maar ook groter veiligheidsrisiko’s vir huiseienaars. Hulle word aangeraai om onder meer seker te maak hul sekuriteitstelsels is ‘winter-gereed’, deur die paniek-knoppies van hul alarms te toets en seker te maak die seine word deur die monitorsentrum ontvang, elektrifiseerde heinings te inspekteer omdat kouer weer die sensors kan affekteer en vals alarms veroorsaak, te verseker dat noodkragstelsels korrek funksioneer indien daar kragonderbrekings is, en dat buiteligte en -sensors operasioneel is.
Interessante en betekenisvolle inligting oor huisbrake is vervat in die misdaadstatistiek wat einde verlede jaar deur die Polisiediens bekend gemaak is, en wat toon dat daar groot kommer oor hierdie tendens behoort te wees. Tussen Oktober en Desember 2025 was daar 42 969 huis-inbrake, oftewel 477 insidente per dag. In dieselfde tydperk was daar 6 505 huis-rooftogte, wat neerkom op 72 per dag. Die verslag toon dat huis-inbrake steeds die algemeenste misdaad was wat huishoudings in 2024/25 geteister het. Vyf-punt-sewe present van Suid-Afrikaanse huishoudings, wat neerkom op sowat 1.5-miljoen voorvalle, het inbrake beleef. Huishoudings in KwaZulu-Natal, en dié van hulle met mans aan die hoof, was bo-aan die lys. Die verslag meld ook dat slegs 43% van die huishoudings die voorvalle by die polisie aangemeld het, wat ‘n aanhoudende tendens is wat die bestryding van misdaad moeiliker maak.
Hoewel huisbrake die algemeenste huishoudelike misdaad is, is die diefstal van persoonlike eiendom steeds die hoofmisdaad by individue. Sowat 1.2-miljoen mense, oftewel 2.6% van die bevolking, is in 2024/25 daardeur geraak. Dis ook betekenisvol dat slegs sewe uit 10 slagoffers die misdaad by die polisie aangemeld het weens verskeie redes, onder meer ’n wantroue in die polisie of die lae waarde van die gesteelde goedere. Dit sal interessant wees om te sien of vanjaar se syfers enige veranderinge aan bg. tendense toon.
Naskrif: Hoewel geen syfers oor huis-inbrake en -diefstalle bekend gemaak is nie, toon die syfers van die CS Global Partners se veiligheids-indeks vir 2025 dat Suid-Afrika op die lys van veiligste lande binne drie jaar van 79e plek tot 129e uit 166 lande gedaal het. Asof ons nie alreeds genoeg probleme het nie.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
