Wees geanker in die Here
Die Bybel herinner ons egter dat ware vreugde nie uit onsself of uit die wêreld kom nie, maar uit ons verbondenheid aan Christus.
“Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!” skryf die apostel Paulus in Filippense 4:4. Hierdie woorde klink amper vreemd in ’n tyd waarin soveel mense emosioneel uitgeput, bekommerd en onseker leef. Nog merkwaardiger is dat Paulus hierdie brief uit die tronk geskryf het. Sy vreugde was dus nie gebou op gemak, voorspoed of ideale omstandighede nie. Dit was geanker “in die Here”. Baie dinge steel vandag ons vreugde. Om jou situasie of omstandighede met ander te vergelyk, is een daarvan. Sosiale media skep maklik die indruk dat ander mense gelukkiger, meer suksesvol en meer vervuld as jy is. Ons begin ons lewe meet aan ander se hoogtepunte. Dan is daar ook die druk van finansiële spanning, werk onsekerheid, misdaad, konflik in families en soms ook slegte nuus. Selfs gelowiges kan moedeloos raak wanneer dit voel of God ons nie hoor nie.
Die Bybel herinner ons egter dat ware vreugde nie uit onsself of uit die wêreld kom nie, maar uit ons verbondenheid aan Christus. Paulus sê nie: “Verbly julle in julle omstandighede” nie, maar “in die Here”. Dit beteken dat ons vreugde rus in God se onveranderlike genade. Ons behoort aan Christus — in lewe én in sterwe. Daarom kan omstandighede ons geluk versteur, maar dit kan nie die diep vreugde van die evangelie vernietig nie. Wat steel dan nié ons vreugde nie? Nie lyding, swaarkry of onsekerheid nie — mits ons oë op Christus bly. Ons enigste troos in lewe en sterwe as Christene, is immers dat ons aan Jesus Christus behoort. Dáár lê die bron van ons vreugde en blydskap.
Ware Christelike blydskap of vreugde is ook nie oppervlakkige vrolikheid of ontkenning van pyn nie. Die Bybel gee ruimte vir trane, worsteling en vrae. Tog leef die gelowige met ’n dieper sekerheid: God laat nooit sy kinders los nie. Daarom kan ons selfs in moeilike tye hoopvol leef. Miskien moet ons vandag eerlik vra: Waar soek ek my vreugde? In mense se goedkeuring? Finansiële sekerheid? Persoonlike sukses? Hierdie dinge kan maklik verdwyn. Maar vreugde in Christus bly vas staan. Paulus se oproep bly dus aktueel: “Verbly julle altyd in die Here.” Nie omdat die lewe maklik is nie, maar omdat Christus die bron van ons vreugde is.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
