Jong Sharks-sterre genees my van Lions
Ons was gaande oor Vusi Moyo se losskakelspel. Hy gaan nog groot hoogtes bereik.
Meimaand o Meimaand, jy bly ons mooiste maand. Ek is die afgelope week aan hierdie woorde, wat ek jare gelede op Uvongo se strand by ’n 80-jarige man gehoor het, herinner toe ek redelik tyd op die Watergat se dek deurgebring het. Ons was nie baie besig nie, tradisioneel vir die vyfde maand, en ons het die geleentheid benut om te ‘chill’, soos ons kleinkinders lief is om te verklaar.
Die algemene gemoedstoestand van die besoekers wat wel ingeloer het, was wel nie wat dit moet wees nie agv. van die internasionale spanning oor onder meer Iran, en die politieke gebeure hier in Suid-Afrika, maar ons het gemeenskaplik besluit om nie daaroor te praat nie.
’n Ligpunt wat hiermee gehelp het was die Sharks se goeie oorwinning oor Benetton, en veral die vertoning van bloedjong nuwe spanlede. Ons was gaande oor Vusi Moyo se losskakelspel. Hy gaan nog groot hoogtes bereik. ’n Juweel. Lihlehile Bester en Jaco Williams was ewe indrukwekkend. Die veteraan Siya Kolisi het ook geskitter met twee drieë in sy totsiens-wedstryd voordat hy teruggaan na die Stormers toe. Dis net jammer die Durbaniete het nie in die top agt van die VRK geëindig nie.
Die Stormers en die Bulle het wel, en het tuiswedstryde in die kwarteindronde afgedwing. Ongelukkig het die Lions weer oor ‘n hekkie gestruikel, en moet ’n wegwedstryd teen Leinster, die kampioene, in Ierland, speel. Wat hulle myns insiens net met ’n wonderwerk kan wen, veral as hul verlies aan top-spelers weens beserings in ag geneem word. Hul twee agtermekaar-nederlae en die vars bries in die Sharks-span het my ook genees van enige impulsiewe besluit om eerder ’n Lions-ondersteuner te word. Hulle speel nietemin in hul eerste top agt-uitspeelwedstryd van die VRK, ‘n veertjie in hul hoed. Die positiewe uiteinde van die puntestand is dat Suid-Afrikaanse spanne nie teen mekaar hoef te speel nie, met twee tuiswedstryde. Hopelik sal dit eers in die halfeindronde gebeur.
Verder nie veel te rapporteer nie, veral nie as ons van die negatiewe af wil wegbly nie. Die IPL-krieket is nou reeds amper twee maande lank ’n groot aantrekkingskrag hier by ons, net jammer so min Suid-Afrikaners lewer werklik top-prestasies. Heinrich Klaasen en Kagiso Rabada is die uitsonderings.
Peet Badenhorst van Margate se storie van die week: ’n Bejaarde egpaar gaan op ’n bootreis. Dis baie stormagtig op see. Hulle staan agter op die dek toe ’n reuse golf die skip tref en die ou man oorboord spoel. Die bemanning het dae lank tevergeefs na hom gesoek, en die kaptein het sy vrou by die volgende hawe terug huistoe gestuur. Drie weke het verbygegaan en uiteindelik het die ou dame ’n faks van die Kuswag af gekry wat lui: ‘Mevrou, ons is jammer om u in kennis te moet stel dat ons u man se liggaam op die seebodem opgespoor het. Ons het hom opgetrek tot op die dek, en gesien daar was ’n oester aan sy een arm. In die oester het ons ’n pêrel met ’n geraamde waarde van R1 000 000 gevind. Laat weet asseblief wat ons moet doen’. Sy antwoord: ‘Stuur vir my die pêrel en laat sak weer die lokaas.’
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
