BlogsOpinion

U, die Kluisenaar?

Het jy God lief? Hoe bewys jy jou liefde vir Hom

Is U lewe stil? Miskien rustig, soos wat u dit sou beskryf? U is tevrede, – altans, so dink U, maar as u eerlik met uself sou wees, kom daar tog iets kort! Leef U soos ‘n kluisenaar en is dit miskien so dat u dit verkies om so op u eie te leef, gelukkig en tevrede met u eie geselskap; doen U eie ding, voel u het niemand anders nodig, want u kom reg op u eie?

Die gedagte kom onwillekeurig by my op: “Is die Here tevrede dat U so in isolasie leef, ‘n kluisenaarsbestaan voer?

Nee, Hy het ons vir mekaar gemaak! Na Hy die man geskep het, het hy die vrou gemaak om vir die man ‘n hulp te wees. Nie net dat die vrou hom moet plesier en die lewe vir hom makliker moet maak nie, maar man en vrou, om vir mekaar ‘n helper te wees.

Dit was ook nie Sy enigste bedoeling nie! Ons moet almal daar wees vir mekaar! Jy is ook veronderstel om vir God te lewe, of glo jy nie dat Hy jou geskep het vir ‘n spesifieke doel nie?

Het jy God lief? Hoe bewys jy jou liefde vir Hom? Kan jy jou liefde vir Hom uitleef deur ‘n kluisenaarsbestaan te voer? Nee, jy kan alleenlik jou liefde vir God uitleef deur jou medemens lief te hê soos jouself.

Deur die Here jou God lief te hê moet daar tog ‘n verhouding tussen jou en Hom wees! Jy moet met God kommunikeer en so ook met jou medemens sodat jy God se liefde teenoor ander kan uitdra. Sodra jy ‘n verhouding met God het, kom woon die Heilige Gees in jou en dan begin jy die helderheid en geur van Sy Gees ervaar en dit straal uit en versprei na jou medemens.

Dan kan jy nie meer geissoleerd lewe nie want jy begin ‘n behoefte ontwikkel om na mense uit te reik, Sy glans te laat skyn en Sy liefde uit te dra! So sal jy dan graag teenoor jou medemens wil vertel van die liefde van Jesus en Sy liefde wil uitleef!

Deur Sy liefde uit te leef beteken nie om ‘n fisiese liefdesverhouding te hê soos tussen man en vrou waarin die liggaamlike behoefte ‘n rol speel nie; NEE, dit is die goddelike liefde van omgee en goeddoen teenoor jou medemens! Die omgee om te weet hoe dit met jou medemens gaan, die raaksien van ander se behoeftes; om die eensaamheid van ander te verlig en die ondersteuning vir mekaar en te vertel van Jesus se liefde en wat Hy in ons lewens vir ons beteken.

Wat doen U vir Jesus? Leef jy net vir jouself en jou eie behoeftes of reik jy uit na ander? Dit is nie altyd die dinge wat geld kos wat nodig is om vir ander te gee nie, maar daardie uitreik van ‘n woord deur begrip te toon, deur ‘n bemoedigende woord aan ‘n ander al is dit net om te sê “Jesus het jou lief!”

Ons het almal mekaar nodig, elke dag! Op ‘n dag het jy nodig dat iemand vir jou sal sê: “Moed hou, Jesus sal voorsien” en dan weer op ‘n dag dat jy vir iemand kan sê: ”Jesus genees, vertrou net” of om vir daardie persoon ‘n gebed te doen, want in Sy woord belowe Hy “waar 2 of meer in Sy woord vergader en saamstem in gebed, daar is Hy teenwoordig”.

Hoe wonderlik is dit om te weet dat Hy daar is vir ons almal!

Ek wil u dus graag aanmoedig: Maak vandag ‘n nuwe begin; reik uit na ander mense, wys jy stel belang en dra so Jesus se liefde uit en bemoedig mekaar! Jesus se opdrag aan ons was, en is nogsteeds dat ons moet uitgaan om dissipels van mense te maak deur hulle van Jesus te vertel. Hoe sal jy dit kan regkry in die afsondering van jou huis? Moet dus nie selfsugtig leef nie, leef God se liefde uit teenoor ander!

 

—oooOOOooo—

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Southlands Sun in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button