
Ons staan aan die begin van ‘n Nuwe Jaar. Baie van u het allerhande Nuwejaars-voornemens gemaak en hoop om dit na te kom. Sommige kry dit wel reg, maar so dikwels, voor jy jou kan kry bevind jy jou in die middel van die jaar met jou voornemens wat soos mis voor die son verdwyn het! Moenie skuldig voel nie; dit gebeur met almal van ons en daarom wil ek vir u ‘n wenk gee.
Ek het ook voorheen my nuwejaars voornemes gemaak en met sommiges nooit eers begin nie. Op ‘n dag het ek tot die besef gekom dat elke dag is soos ‘n nuwe dag in die jaar! Ek wil elke dag my voorneme nuut uitlewe, doen soos God se woord aan my voorskryf. In 2 Kor 5:17 lees ons dat as iemand in Christus is hy ‘n nuwe skepsel is, “die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword”(v17).
Laat elke dag van die jaar dus vir jou nuut wees asof dit die eerste dag is van ‘n nuwe jaar. Ja, sonder Christus is dit nie vir jou moontlik om ‘n nuwe lewe te begin nie. Leef volgens God se wil, kyk vorentoe en wees positief. Vergeet van die ou dinge wat agter is; die foute wat jy gemaak het of teleurstellings wat jy gehad het. Met Hom aan jou sy is jy ‘n oorwinnaar en in staat tot enigiets. Dank Hom dus elke dag vir ‘n nuwe dag, leef nuut in jou voorneme en jy sal wees soos ‘n koel briesie in ander se lewens.
Maak dus elke dag ‘n voorneme om volgens God se wil te leef, jou aan Hom te wy. Hom te eer en Sy liefde uit te dra. Mag dit ons voorneme vir vandag en elke ander dag van die jaar wees!
—oOo—



