Kragman van formaat
Vir Deon Scheepers is liggaamsbou tweede natuur aangesien hy gaande is oor oefen.

Hy kan ‘n rits liggaamsbou titels agter sy naam skryf en is geweldig trots op dit wat hy vermag het.
“In 1967 het ek saam met Mnr Brakpan, Buks Fourie, gewerk en om meer inligting te bekom het ek hom gepeper met vrae oor liggaamsbou. Nodeloos om te sê dat hy my so geïnspireer het, dat ek in 1968 die titel by hom afgeneem het,” spog Deon.
Deon glimlag breed as hy vertel dat daar in daardie jare vier manne was wat gewedywer het om die titel en toe kom raap dié laaitie dit weg voor almal.
Maar as gevolg van ‘n skouer besering wat hy kort daarna opgedoen het, was hy vir nege jaar buite aksie.
Hy vertel dit was so seer dat hy beswaarlik sy daaglikse take kon verrig, wat wou nog gewigte optel.
Maar as gelowige het Deon besluit om vir een volle dag te vas en te bid sodat sy skouer kan genees.
“Dit was ongelooflik, ek het daardie tyd vir Impala Refinery gewerk en was besig om platinum af te weeg. Die volgende oomblik besef ek dat ek geen pyn meer in my skouer voel nie en dat ek die platinum sonder enige gesukkel op die skaal laai,” vertel Deon.
Vir Deon was dit die begin van die grootste oomblikke van sy sport loopbaan.
Met net ses weke van oefen agter die rug, behaal hy in 1978 die top ses in die Mnr Oos-Transvaal. Die volgende jaar toe kom hy in tweede plek.
Aanhouer wen en in 1980 verower hy die Mnr Suid Afrika titel in die liggewig kategorie en wen dit vir die volgende 24 agtereenvolgende jare.
In 1985 is Deon gekies vir die SA span om aan Mr Universe te gaan deelneem, maar om politieke redes was SA nie toegelaat om daaraan deel te neem nie en moes hulle onttrek.
Op 57-jarige ouderdom het Deon gewys hy is ‘n man van staal toe hy twee Mnr SA’s oor 50 titels wen, asook die Mnr SA senior middelgewig titel.
“Ek het ‘n passie vir oefen, dit is my dryfveer. Dan natuurlik ook die satisfaksie om te wen as jy weet jy het baie hard geoefen,” sê Deon.
“Die eer om al daardie titels te kon verower kom my nie toe nie, maar die Here wat my die geleenthede gegee het om al hierdie titels te kon inpalm,” sluit Deon af.
Nog titels wat Deon verower het was Mnr Republiek wat hy 20 keer gewen het en Mnr Suider Afrika 23 keer. Dié kompetisie het Suid-Afrika, Zimbabwe en Namibië ingesluit.
Dan was daar nog die SA Champ of Champions wat hy twee keer gewen het en ook die Mr All Africa wat ‘n groot prestasie was vir Deon, aangesien dit lande vanaf Suid-Afrika tot Egipte ingesluit het.
Maar die titel wat vir Deon die grootste trots inhou was toe hy die Mr Universe titel in 1991 op die ouderdom van 45 ingepalm het.
Maar 11 jaar gelede het Deon besluit om die tuig neer te lê en meer op die jonger manne wat by sy gimnasium aangesluit het te fokus.
Hy sê hy oefen nogsteeds liggies en vertel glimlaglaggend dat dit tyd geword het vir aftree.



