Passievolle atleet sal hardloop tot sy nie meer kan

Elaine hoop dat sy vir nog vele jare sal kan hardloop.

Om te hardloop vloei al vir jare deur Elaine Beytell se are en sy het genoeg asem om al haar drome en doelwitte na te jaag.

Die 41-jarige atleet van Petersfield was maar net ses jaar oud toe sy reeds haar hart op dié sport verloor het, en het sedertdien nog nie ophou hardloop nie.

As kind het sy het op laerskool provinsiale kleure vir landloop en atletiek ontvang.

Haar langasem het egter nie op hoërskool verdwyn nie en daar het sy weer provinsiale kleure vir landloop en atletiek se 800m, 1 500m en ook 3 000m verower.

Sy het ook al verskeie kere aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe deelgeneem in beide landloop en atletiek.

Elaine erken dat sy die uitdagings van hardloop geniet, sowel as die tevredenheid na die afloop van ‘n wedloop.


Elaine Beytell (links) het op 4 Mei die Colgate Marathon se 15km kaf gedraf.

Sy het al tevore die Comrades Maraton aangepak, asook drie keer die Two Oceans Maraton gehardloop maar sy het egter vinnig besef dat lang afstande nie vir haar is nie.

Sy verkies dit om korter afstande te hardloop.

“Enigiets tot en met 21km is vir my baie lekker,” het Elaine gesê.

Sy het egter verlede jaar besluit om weer baan atletiek aan te pak en hardloop tans die 400m, 800m, 1500m en selfs die 5000m.

Vroeër vanjaar het Elaine aan die Sentraal Gauteng Master Kampioenskappe in Germiston deelgeneem en ‘n uitmuntende eerste plek vir beide die 400m en 1500m verower.

Hier het sy gekwalifiseer om aan die Suid-Afrikaanse Master Kampioenskappe deel te neem wat 2 en 3 Mei in Potchefstroom plaasgevind het.


LEES OOK: Lots of fun on offer at Springs Retirement Village market day


Elaine het haar staal in die 400m gewys waar sy tweede plek behaal het.

Sy het in die 1 500m ‘n vierde plek behaal en haar langasem in die 5 000m ten toon gestel en met ‘n brons medalje om die nek weggestap.

“Dit was vir my ‘n groot hoogtepunt, veral omdat ek nie meer so jonk is nie,” vertel sy.

Volgens Elaine, wat deel is van die Striders Klub, is die samesyn en die atlete se liefde vir die sport aansteeklik onder die klublede. Sy is al van ‘n jong ouderdom af deel van dié klub.

Elaine se passie vir dié sport strek verder as net sy wat self hardloop; sy rig elke middag ook ‘n groep jong atlete af en alhoewel sy bietjie oefening saam met hulle inkry, dit is eintlik in die oggend 04:45 wat sy die pad kafdraf om haar afstand vir die dag in te kry.

Elaine se dogter, Kara (13) het haar ma se hardloop-gene geërf. Die twee sien hulle hardloop sessies as kwaliteit tyd wat hulle saam spandeer.

“Ons inspireer en motiveer mekaar omdat ons beide ‘n passie vir die sport het.”

Volgens Elaine is ouderdom net ‘n nommer. Sy meen dat sy nog gaan hardloop vir so lank as wat haar gesondheid dit toelaat.

Exit mobile version