Hugenote se tweede beste matrikulant van 2024 is Anika Kriel. Sy het nege vakke gehad waarvan sy agt onderskeidings behaal het in Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, besigheidstudies, rekenaartoepassingstegnologie, lewenswetenskappe en religiestudies. Haar droom is om in 'n mediese rigting te gaan bestudeer by die Universiteit van Pretoria.
Altesaam 12 matrikulante van die Hoërskool Hugenote het daarin geslaag om drie of meer onderskeidings te behaal in die Nasionale Senior Sertifikaat eksamen (NSS) van 2024.
Die matrikulante het goeie resultate opgelewer en Hugenote het ‘n slaagsyfer van 99.5% behaal. Twee leerders, Darius Barnard en Anika Kriel het elk agt onderskeiding los geskryf en beide Marioné Muller en Jessica Jacobs het vyf onderskeidings agter hul naam.
Dié matrikulante het Dinsdag saam met derduisende ander, wat hul eksamen in 2024 afgelê het, uiteindelik hul uitslae ontvang.
Die waarnemende hoof van Hoërskool Hugenote, Frina du Toit, is baie tevrede met die skool se matriekuitslae.
“Ons is saam met elke ouer en vakonderwyser baie dankbaar vir die uitstekende resultate en trots op ons leerders. Dit is inderdaad die kroon vir baie jare se harde werk.
“Dit bly vir die Hugenote-personeel ‘n voorreg om Springs se gemeenskap op die wyse te kan dien,” sê Frina.
Nog 'n suksesvolle kandidaat met vier onderskeidings is Zeldeane Nieuwoudt. Haar prestasies is in Engels, wiskunde, rekeningkunde en ingenieursgrafie en ontwerp. Haar toekomsplanne sluit studies in finansies in.
Nog 'n slimkop is Tané Erasmus. Sy het vier onderskeidings behaal in Afrikaans, Engels, lewensoriëntering en rekenaartoepassingstegnologie.
Danika Henning het ook vier onderskeidings behaal in Afrikaans. Engels, lewensoriëntering en besigheidstudies. Sy gaan vanjaar kommunikasie en grafiese ontwerp aan die Noord-Wes Universiteit van Potchefstroom studeer.
Jana Roets het vier onderskeidings behaal. Sy het uitgeblink in Afrikaans, Engels, lewensoriëntering en rekenaartoepassingstegnologie. Sy beoog om radiografie aan die Universiteit van Pretoria te studeer.
Marioné Muller het vyf onderskeidings behaal in Afrikaans, Engels, lewensoriëntering, besigheidstudie en dramatiese Kunste. Sy gaan onderwys aan Aros studeer.
Monique Venter het vier onderskeidings behaal en uitgeblink in Afrikaans, Engels, lewensorientering en rekenaartoepassingstegnologie.
Jessica Jacobs het vyf onderskeidings behaal in wiskundige geletterdheid, lewensoriëntering, besigheidstudies, rekenaartoepassingstegnologie en toerisme. Sy wil meer betrokke raak by die besigheidswêreld.
Darius Barnard is nie net die Hoërskool Hugenote se top-kandidaat van 2024 nie, maar was ook die hoofseun. Hy het agt vakke gehad waarvoor hy in die 90's in elk behaal het. Hierdie prestasie is behaal in Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, rekenaartoepassingstegnologie, fisiese wetenskap en religiestudies. Hy gaan aktuariële wetenskappe te Noord-Wes Universiteit studeer om later uiteindelik n aktuaris te word.