AfriForum skenk R10 000 aan Hoërskool Hugenote om landboutegnologie te steun
Die skenking sal gebruik word om die nodige hulpmiddels en toerusting te koop.
AfriForum Springs-tak het onlangs ‘n skenking van R10 000 aan die Hoërskool Hugenote oorhandig en maak daarmee ‘n belegging in die toekoms van die jeug en landbouontwikkeling in die gemeenskap.
Dié skenking sal onder meer ‘n bydrae maak tot die ontwikkeling van landboutegnologie wat vanaf 2026 as keusevak vir grade 10 tot 12-leerders by Hugenote aangebied sal word.
Volgens Nadia Olckers, AfriForum distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, sal die skenking gebruik word om hulpmiddels en toerusting aan te koop wat leerders akademies en prakties sal bevoordeel.
“Dit dien uiteindelik as ‘n vermenigvuldiger en ‘n belegging in die toekoms van Springs se jeug,” het Olckers verduidelik.
“Skole staan aan die kern van gemeenskappe en met hierdie skenking bou AfriForum nie net aan die skool en die leerders se toekoms nie, maar ook aan dié van die gemeenskap en die dorp.”
Jacques Moorcroft, hoof van Hoërskool Hugenote, beklemtoon dat die gemeenskap, saam met AfriForum se skenking, die aanbieding van landboutegnologie as vak by dié skool moontlik maak.
“Die belangstelling in hierdie nuwe geleentheid is ongelooflik en ons is opgewonde om te kan sê dat 85 leerders reeds ingeskryf het om in 2026, ons eerste jaar van aanbieding, met landboutegnologie te begin,” het Moorcroft gesê.
“Dit bevestig die groot behoefte aan ‘n praktiese vakrigting waarin tegnies ingestelde leerders kan uitblink en wat hulle toerus vir naskoolse werksgeleenthede in die tegniese en landboubedryf.
“Hugenote is dankbaar vir die skenking en spreek die grootste waardering uit teenoor AfriForum en almal wat betrokke is,” het Moorcroft bygevoeg.
LEES OOK: KYK: Lede van VLU Carpe Diem leer oor selfoonfoto’s en heuningbye
LEES OOK: Heinrich Booysen Ministries brings hope and worship to Epilepsy SA Springs



