Maar dalk moet ons meer luister na die gesprekke wat die mense rondom ons voer oor hulle drome.
Gesprekke van spyt kom te laat, van mense wie se drome op hul kinders toegespits word.
Sommiges se drome is in realiteit nogsteeds net ‘n droom.
Dan is daar natuurlik die wat hul drome heeltemal laat vaar as gevolg van verskeie redes.
Dr John Maxwell skryf in sy boek Put your Dream to the Test:
‘Om jou droom te volg is soos om ‘n berg te klim. Ons sal nooit die kruin bereik as ons te veel gewig met ons saamdra nie. Soos wat ons elke nuwe fase van die klimekspedisie binnegaan, moet ons ‘n besluit neem: Neem ons nog meer goed saam met ons wat ons moet dra, los ons goed agter wat ons nie sal help nie, verruil ons wat ons by ons het vir iets anders, of hou ons heeltemal op met klim?’
Dalk moet daar eers besluit word of ons genoeg deursettingsvermoë het om drome uit te leef voordat ons die berg aandurf, en dit beteken natuurlik die strewe na voortreflikheid en harde werk.
Die ou mense het hoeka gesê niks is verniet in die lewe nie, daarom sal jou drome nooit vervul word as jy nie bereid is om die prys te betaal wat daarmee gepaard gaan nie.
Jy sal meer moet doen as net droom, jy sal moet werk, leef en groei. Want jy kan nie die maklikste uitweg kies en steeds jou doelwit of drome bereik nie, jy sal moet doen wat dit ook al verg. Jy sal baie moet opoffer en jou oë gerig hou op die wenpaal.
Die prys van ons drome is nie ‘n prys wat net een keer betaal word nie, maar oor ‘n leeftyd.
Probleme los hulself nie mettertyd op omdat jy weier om hulle te hanteer nie, inteendeel, hulle vermenigvuldig.
Dus, gee vandag ‘n uitsettingsbevel aan elke negatiewe gedagte wat jou terughou, want ‘n visie sonder ‘n taak is dagdromery, maar ‘n taak met ‘n visie is die pad na oorwinning en sukses, na vervulling van jou drome.
Gebruik jou verbeelding. Dit onderskei ons van alle ander lewende wesens, en stel ons in staat om na die maan te gaan, die Internet uit te vind en ‘n droom te hê.
Onthou dat elke pad wat jy in die lewe neem iewers heen lei. So ook jou drome. Jy sal nogsteeds moet werk aan jou swak punte, maar jy is ‘n mens, net soos almal anders.
Kyk dus elke oggend in die spieël en sê vir jouself: Ek is belangrik en ek sal nooit ophou om my droom na te volg nie.



