Goeie dag bitter ongelukkige motoris,
Eerstens wil ek ‘n paar dinge uitklaar oor jou artikel in die koerant.
Jy het ‘n punt oor hoe die metro polisie partymaal soos idiote kan aangaan, en ja, die metro gaan nie jou skade betaal as iemand in jou vasry wanneer jy skielik moet rem aanslaan omdat ‘n metro offisier voor jou ingespring het nie.
Maar as jy 80km/h in ‘n 80km/h zone ry sal die persoon agter jou ook daardie spoed ry.
Watter spoed die mense in die ander baan ry is dan hul saak
Nog iets, as almal hulle spoed ry sal die metro polisie nie nodig hê om voor julle in te spring nie.
As hulle nie daar was om julle te stop oor julle jaag nie dan sou daar in elkgeval meer ongelukke wees en dan ry almal soos hul smaak.
Nou om by die ernstige punt te kom, as jy die metro polisie idiote wil noem, als reg, ek het al self ‘n paar gesien
Maar om een persoon, wat sy lewe vir sy werk gegee het en nie daar is om homself te verdedig nie, ‘n idioot te noem is laag.
Het jy al ooit gedink daardie idioot het ‘n naam, Danny Hunt, en hy het ook ‘n vrou en kinders wat die koerant lees.
As jy dalk enige gevoel het sou jy twee keer gedink het voor jy so iets sou sê.
Mense moet hul feite eers agtermekaar kry voor daar sulke dinge gesê word en koerant toe hardloop daaroor.
My pa het nie direk voor daardie kar ingespring nie want anders sou hy nie in die middel eiland gewees het toe die kar hom getref het nie.
Daardie drywer kry wat hom toekom want as hy nie gejaag het nie sou ek dalk nog ‘n pa gehad, my kind nog ‘n oupa en sy vrou nog ‘n man.
So asseblief dink weer voor julle net goed begin rondgooi oor ‘n spesifieke persoon.
‘n Bitter ongelukkige dogter.



