BlogsOpinion

‘n Lekker hondelewe

Die lewe van die Robertson-honde

Troeteldiere wat buite slaap groet nie die winter met ‘n glimlag nie.

Inteendeel, hulle kerm en tjank met die ideë om jou om te koop om net een aand in die huis te mag slaap.

Dit sal ongelukkig katastrofiese gevolge hê, maar ons probeer dit so gerieflik moontlik maak vir almal.

Klein Tinky, ons miniatuur dobermann pinscher, slaap snoesig saam met ma en pa in die bed en voel ‘n veer vir die gekerm van buite.

Maar ons nuwe Rhodesiese rifrug Roxy, laat van haar hoor in ‘n koorstem wat elke koorleier sal laat smag om haar as sopraan in hul koor te verwelkom.

So ploeter ons voort aand vir aand, totdat ek, haar mamma, haar jammer kry.

Weet nie van julle, maar ‘n gekerm irriteer my grensloos en so maak ‘n boer ‘n plan om Roxy uitgesorteer te kry vir die koue winteraande.

Ja julle het reggeraai, sy slaap nou snoesig langs ma en pa se bed op ‘n Kontinentale kussing en gehekelde kombers.

Maar ons sopraan besluit die eerste aan sy verkies ma en pa se bed, maar pa laat ook net soveel toe en besluit hy kan nie die bed met nog ‘n vroulike geslag deel nie, twee is genoeg.

Met ‘n ferm stem wat sê “gaan lê op jou plek”, weet sy pa meen besigheid en binne sekondes lê sy snoesig op haar plekkie.

Natuurlik sal ek die boodskap in haar oë nooit vergeet nie – sy het vir my laat weet ‘Weet julle hoe praat ‘n dier se oë met jou, dis iets vreesliks’.

Sy het ook gevra hoekom Tinky voorgetrek word om binne die bed te mag slaap.

Nou hoe verduidelik ‘n mens dit aan ‘n nege-maande-oue rifrug dat daar nie plek is vir drie groot liggame op die bed nie, al is dit ‘n koningin-grootte bed?

Maar ma het haar jammer gekry en besluit om haar toe te gooi met nog ‘n gehekelde kombers.

Met Beer, die boerboel, gaan dit minder goed, want so begin hy toe ook kanse vat met sy bas stem, wat van ouderdom al krakerig begin raak en glo my geen koorleier sal in hom belangstel nie.

Met ‘n ferm stem van pa dat hy rustig moet raak het hy uiteindelik moed opgegee en aan die slaap geraak.

Dit verstom my dat diere ons lewens so kan beïnvloed.

Maar dan dink ek aan die eienaars van diere wat nie regtig omgee vir hulle nie.

Ons het vriende gehad wat regtigwaar geglo het diere is gemaak om buite te bly en hul honde het nie eers ‘n kas gehad wat staan nog ‘n kombers om hulle te probeer warm hou teen die winter koue.

Maar sonder om af te dwaal van my storie kom ons gaan terug na Beer.

Die lummel het van kleins af geweier om in ‘n kas te slaap.

Het nogal gewonder of honde ook aan kloustrofobie kan ly dat hy weier om die kas aan te durf?

Maar so slapies hy te heerlik op sy swart wildebees vel wat pa vir hom gegee het.

Mag ek ook net noem dat hy onder ons kamervenster slaap en al skuif ons die vel onder die afdak langs die huis in, sal hy op die koue sement slaap as hy moet, maar onder die venster wil hy wees.

Die is natuurlik die deel van sy geaardheid wat my nog liewer maak vir hom.

Hy is so groot lomp hond, maar ewe rats wanneer dit kom by beskerm, maar kom ons los die storie vir ‘n ander dag.

Jack ons Jack Russell, slaap nou in Beer se kas.

Ons tuinier maak elke aand vir ons vuur in die lapa, waar ons vir ‘n paar minute kan ontspan en dit is waar die honde oorneem. Weereens lê Beer op ‘n vel en slaap, maar die ander drie lê al te heerlik op die bank, dus geen plek vir pa en ma op die bank reg voor die vuur nie.

Ons het toe maar besluit dat die vuur ‘n warm-maak sessie is voor slapenstyd.

Beer het die gewoonte om met sy tong effe uit sy mond te slaap, te oulik, maar om die prentjie af te rond, gaan sit Roxy bo op sy kop.

Ja sowaar, as ek haar en Tinky uitgooi in die oggend voor ek werk toe ry, gaan sit sy bo op sy kop.

Ek reken sy wil dalk nie die koue gras so vroeg in die oggend aandurf nie want dan gaan haar boude koud kry.

Wat ons verstom is dat hy dit toelaat, want daar word gesê hoe ouer diere raak hoe meer issigrimmig word hulle.

Hy is nie meer vandag se hondekind nie en die oumens-streke het hom nog nie beetgekry nie.

Wat ookal in ‘n hond se kop aangaan, weet ek nie, maar ek weet verseker hy put voordeel uit hierdie kopsittery anders sal hy dit nie toelaat nie.

So maak ons seker elkeen se bed is reg vir die volgende koue aand wat ons trotseer.

Wanneer dit reën is dit nogal ‘n storie om Beer beskut te kry, maar dit is baie min dat hy natreën onder ons kamervenster.

Met die wete dat ons diere warm slaap sus darem so bietjie, want dit is tog waarvoor ons daar is, om na hulle om te sien.

Nie slegs met kos en water nie, maar ‘n beskutte plek om in te slaap en baie liefde.

So groet ons dan elke oggend ons diere wat elkeen op sy eie warm plek op die erf lê.

Met ‘n boodskap in hul oë wat sê baie dankie vir jul liefde, in ruil daarvoor sal ons julle erf oppas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button