BlogsEditor's noteOpinion

Wat ware vriendskap beteken

Een van die beste dinge in die lewe is vriendskap.

Elkeen verskil van opinie oor wat ware vriendskap werklik beteken.

Ekstroverte het soms baie vriende terwyl die introvert dalk net een of twee naby vriende het.

Maar of ons nou baie vriende het of net een of twee, behoort ons min of meer dieselfde waarde aan vriendskap te heg.

Soms laat my wonder oor wat almal se opinie is oor die waarde van vriendskap.

Is dit lojaliteit, vetroue of dalk om iemand anders se behoeftes bo jou eie te stel.

Dalk is dit om iemand se hand te vat en saam met hulle te huil of om jou diepste geheime mee te deel.

Daar is te veel om op te noem.

Om te luister as iemand ‘n oor nodig het of saam op die lewe se kronkelende pad te stap.

Maar wat ookal die eienskappe van ware vriendskap is, vriendskap is iets wat gegee word, sonder dat dit gemeet word.

My pa het altyd gesê vriendskap is soos ‘n huwelik, dit moet iemand wees met dieselfde politieke oortuiginge as jy, met dieselfde geloofsoortuigings en met ten minste dieselfde belangstellings.

Vroeër jare het dit baie beteken vir ‘n huweliksmaat en sekerlik ook vir vriendskappe, maar vandag is daar soveel politieke oortuigings dat ek wonder of dit nog deel uitmaak van ons ouers se begrip van vriendskap en ‘n huwelik.

Loop vriendskap en huwelik nie hand aan hand nie?

Dit het my so bietjie laat kopkrap en ek het tot die gevolgtrekking gekom elkeen het hul eie opinie oor vriendskap.

Vertroue, liefde en lojalitet is tog belangrike kenmerke van ware vriendskap is dit nie?

Om dieselfde waardes te hê, met mekaar saam te stem en ook te verskil, mekaar met respek te behandel en eerlik te wees of in voeling wees met die ander persoon se opinies en oortuigings.

In ons samelewing koop rykdom, sukses, roem en geld soms vriende, maar soms is dit net mooiweersvriende.

Maar kom ons staan bietjie stil by oortuigings, soms heg ons eiewaarde aan vriendskap.

Ons vriende moet lojaal wees en altyd met ons saamstem, en as hulle nie saamstem is hulle dislojaal.

Vir sommige mense loop vriendskap, betroubaarheid en lojaliteit hand aan hand.

Ons vriende word soms gekies volgens ons belangstllings en keuses in die lewe nie en daarvolgens bou ons hegte vriendskapsbande.

So glo ons dan vriende is eerlik met mekaar en solank ons dieselfde belangstellings het, sal ons tog eerlik wees.

Maar jarelange vriendskappe vorm en slyp mekaar, soos ‘n kunstenaar en sy bytel ‘n stuk hout vorm in ‘n kunswerk.

Hulle sien nie net jou foute raak nie, maar die dieper mens binne jou en sommiges ken jou hart beter as jyself.

Dié soort vriendskap vorm lojaliteit.

Om lojaal te wees is om respek vir mekaar te hê, opofferings te maak ten einde getrou aan die vriendskap te bly.

Sommige mense moet jy ‘n leeftyd ken voordat daar enige vriendskap of lojaliteit tussen julle is, terwyl ander weer binne ‘n paar minute ‘n vriendskapsband smee wat onbreekbaar is.

Ware vriendskap is vriende deur dik en dun, vriende wat verby jou foute kyk, wat jou onvoorwaardelik aanvaar en ook liefhet.

Selfs al is julle kinders saam stout.

Daarom maak mense opofferings in ‘n vriendskap.

Onlangs het ek ‘n “’60s” tema partytjie bygewoon van ‘n groep ouer vriendinne.

Tannie Miems word eers in Januarie 70 jaar oud, maar reël toe haar eie partytjie voor die vakansie en Kersgety begin en almal hulle eie rigting inbeweeg.

Hierdie vriendinne verskil hemelsbreed en tog het hulle almal een persoon in gemeen, Miems.

Elkeen van hulle se opregtheid, waardering en liefde vir haar is onmeetbaar en tog duidelik sigbaar.

Dat sy hulle almal uitput met haar lewenslustigheid is verseker, maar elkeen van hulle put iets spesiaals uit hierdie jarelange vriendskap met haar.

Sommige van hierdie vriendskappe is al ouer is 50 jaar.

In stilte bekyk ek die vriendskap tussen hierdie klomp vriende en besef dat vriendskap werklik iets is wat gegee word sonder dat dit gemeet word.

Weereens besef ek vriendskap is wanneer jy iemand anders se behoeftes bo jou eie stel.

Dat jy bereid sal wees om tyd op te offer vir daardie persoon.

Nie een van hierdie uiteenlopende vriendskappe is jaloers op die ander nie, want elkeen deel sy tyd en aandag aan een spesiale mens.

Dit was ‘n besondere belewenis en ek het baie geleer by die groepie vriendinne.

Dit het my laat besef hoe toegewy hulle aan hul vriendskapsverhouding met Miems is.

Hulle waardeer haar borrelende geaardheid en maak haar vriendskap ‘n prioriteit in hulle lewe, want volgende keer is hul vriendskap weer vir haar ‘n prioriteit.

Wees dus toegewy aan jou vriendskapsverhoudings, wees beskikbaar wanneer jou vriende jou nodig het.

Maak hulle jou prioriteit, wees ‘n luisterende oor en gee ‘n skouer om op te huil, waardeer mekaar se vriendskap, spandeer tyd met mekaar want tyd is kosbaar.

Ware vriendskap is nie te koop nie, want dit vind nie sy lus in neem nie, maar in gee.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button