BlogsOpinion

Winterseisoen is ‘n rusfase vir almal

Die reën het verlede Donderdagaand saggies begin val, terwyl ek Gé Korsten se "Hoor hoe sag val die reën..." neurie.

Alhoewel die reën altyd welkom is, kan ek nie help om aan al die haweloses te dink nie.

Hoe beleef hulle die winter koue en die reën?

Neurie hulle ook saggies bekende liedjies, sien hulle nog die skoonheid van die natuur raak of die wonder van die reën?

Omdat winter nie deur almal verwelkom word nie, moet ek bieg dat die somer my baie meer opgewonde maak as die winter.

Dink nou maar aan al die baie wasgoed in die winter en, met beurtkrag wat ons almal sonder keuse beleef, kan ons nie altyd wasgoed was wanneer ons moet nie.

Wil nou nie soos ‘n klakous klink nie, maar ek verkies die somermaande met groen gras en pragtige blomme bo die winter koue.

Maar kom ons raak positief wanneer ons oor die seisoene praat.

Elke seisoen bring veranderinge in die natuur.

Die herfs kom na die somer en die bome verkleur in ‘n prag van roeskleurige blare.

Die gras begin plek-plek vaal word.

Bome verloor later hul blare en betree ‘n rus fase.

Die winter bring ysige koue wat die meeste van die onbeskutte plante, bome en struike laat dood gaan.

Maar in ons lewens is daar ook seisoene.

Of ons nou daarvan hou of nie, verloor ons ook tog van ons ”blare” en staan ons ook en bibber oor die winter in ons lewens.

So beleef ons ook lente, met blomme en bome wat bot en die pragtigste bloeisels uitstoot.

Om terug te kom na die hawelose en straat kinders.

Sou hulle ook die seisoene beleef soos ons, of het hul lewens so drasties verander as gevolg van omstandighede dat die vier seisoene geen inpak op hulle lewens het nie?

Kyk ons na hulle wat staan en bedel op die straat hoeke, draai ons die kop weg.

Maar die wat wel moeite doen om te kyk, sien oë sonder glans en niks seggende gesigsuitdrukkings.

Miskien is dit hul winter seisoen wat hulle graag met iemand wil deel, dalk is ‘n luisterende oor al wat hulle nodig het, iemand om hul lief en leed mee te deel.

Nadat iemand die verkeerde nommer geskakel het, deel sy haar winterstyd met my.

Sy is gediagnoseer met Alzheimer’s. “Dit is nog net in die begin fase,” sê sy.

Winter het aangebreek in haar lewe, dit lyk koud, vaal en bibberend as sy daaraan dink, maar dalk het my simpatieke oor vir haar warmte besorg.

Dit is soms al wat ons moet doen; warmte verleen met ‘n glimlag wat sê: Dis winter, dis koud maar die somer kom weer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button