Veral as jy presies weet wat dié sogenaamde ‘behoeftige’ mense doen met die klere of kos wat jy vir hulle gee.
’n Paar jaar gelede het ons as gesin die besluit geneem om nooit weer enige iemand wat aan ons deur klop om hulp, te help nie.
Dit het gekom na aanleiding van die feit dat vriende van ons gevra het om hulp vir ’n gesin van vier wat in ’n tent bly.
Hulle grootste fokus was om baba- en kinderklere vir hierdie behoeftige gesin te kry.
Dadelik het my hart uitgegaan na die gesin, veral toe ek hoor hulle het ’n een-maand-oue baba.
Die gesin, so het ons verstaan, het nie eers doeke, toiletware vir die baba, wat staan nog vir hulle self en die ander drie-jarige kind nie.
Dit was met baie vrae en deeglike nabetragting wat ons besluit het om tog maar hand in eie boesem te steek om sodoende dié behoeftige gesin te help.
Kan jy jouself indink, ’n jong getroude paartjie wat probeer om hulle twee kinders in ’n tent te huisves.
Terloops die enigste plek waar hulle toegang tot ’n kraan het was ’n nabygeleë park.
Daar is nie hout om ’n vuur te maak sodat hulle warm water kan kook om in te bad nie.
Sover ons ons afleidings kon maak was daar darem mense wat in dié behoefte voorsien het en selfs ’n pot of twee aan die gesin verskaf het.
Iemand het toe ook hul harte vir die gesin van vier oopgemaak en twee spons matrasse geskenk sodat die baba, haar suster en ouers darem nie op die grond hoef te slaap nie.
En so peper ons die sogenaamde vriende van ons met vrae oor die situasie.
Hulle was deeglik voorbereid, want vir elke vraag het man en vrou, ’n soortgelyke antwoord gegee.
Die man, wat in die tent woon, het glo ook intussen ’n werk gekry, maar verdien net genoeg om aan hul daaglikse behoeftes te voorsien en vir die baba formule melk te kan koop.
Dit laat my toe dadelik wonder hoekom die ma dan nie borsvoed nie.
Wel, selfs daarvoor het hulle ’n mediese antwoord gereed gehad.
Sonder versuim is ons oortuig om te help en belowe toe om die klere en die nodige beddegoed bymekaar te maak.
Intussen het ons al ons vriende genader en het ons babaklere gekoop, ’n baba bad, bottels, medisyne wat dalk nodig mag wees soos krampwater, hoes medisyne vir die dogtertjie, hoofpynpille vir die ouers, boud salf, lyfroom en darem ’n lekker ruik dingetjie of twee vir pa en ma.
Beddegoed, klere, skoene, toiletware en selfs handdoeke is geskenk.
Selfs nie bederfbare kos is deur ons vriendekring, uitsluitende die sogenaamde vriende natuurlik, bymekaar gemaak.
Ons het ons huiswerk deeglik gedoen, of so het ons gedink.
Met al die items in plek, kontak ons ons vriende en vra of hulle dit kan kom afhaal.
Oorweldig oor die behoefte van die gesin vertrek ons sogenaamde vriende met die ‘wavrag’ goed wat sommer dadelik afgelewer sou word.
Nodeloos om te sê, dat ons dieselfde paartjie met hulle kleinkinders raakloop, ’n week later, met van die klere wat ons aan die behoeftige gesin geskenk het, en dit nogal die nuwe klere.
My man het hulle onmiddellik gekonfronteer, maar hulle het vererg weggeloop met die volgende woorde: “Ons sukkel ook, so hoekom kan ons nie ook van die items gebruik nie?”
Ons help vandag nog minder bevoorregte mense, maar lewer self die voorraad af.
Ek haal my hoed af vir dié wat hul hand in eie boesem steek.



